Eskom gee wenke:Bespaar krag en boer vooruit
EleEskom-gee-wenke-Bespaar-krag-en-boer-vooruit/p>
Elke boer kan vandag al kleiner kragbesparings in werking stel om meer waarde vir sy energierande te kry – sonder om sy boerdery se doeltreffendheid in te boet.
Elektriese motors
Sestig persent van Suid-Afrika se elektrisiteit word deur elektriese motors verbruik. Dit spreek vanself dat motor wat minder gulsig en boonop flukser is ’n beduidende besparing kan meebring.
Daar is sulke motors en Eskom se Energiedoeltreffendemotorprogram betaal subsidies aan boere wat hulle ou kragvretermotors met nuwe, meer doeltreffende motors vervang. Meer inligting oor dié aanbod kan op www.eskom.co.za/dsm gekry word, of skakel 011-800-4744.
Besproeiing
Baie elektrisiteit kan bespaar word as die verhouding tussen die pompgrootte, pypdikte en sproeiergrootte reg is om die beste resultate met die minste weerstand te bereik. Praat met jou besproeiingspesialis.
Lekkende pype kos die boer ook ’n groot klomp elektrisiteit vir pompkoste aan water wat nutteloos in die grond versink.
Professionele besproeiingskedulering na aanleiding van grondwaterinhoud en gewasse se werklike waterbehoefte kan tot 30% van die energiekoste van besproeiing (en ’n groot klomp water) bespaar.
Koelkamers
’n Goed geïsoleerde koelkamer wat volgens die vervaardiger se voorskrifte gepak word sodat lug tussen die produkte kan beweeg en wat net oopgemaak word wanneer dit regtig nodig is, kan die boer baie elektrisiteit bespaar en sommer ook sy produkte se lewe verleng.
Sorg dat kondensators goed geventileer en skoon is en verkieslik aan die suidekant van die gebou waar dit nie deur regstreekse sonlig beïnvloed word nie.
Melkportale
Die piek-elektrisiteitverbruikstye is smôrens tussen 07:00 en 10:00 en smiddags tussen 18:00 en 21:00. As jy jou melkmasjien net nadat gemelk is met koue water spoel en die volledige wassiklus buite piektyd volg, kan dit tot meer gelykmatige elektrisiteitsverbruik meehelp en jou elektrisiteitsrekening verlaag.
Ysbankstelsels vir melk kan ook buite piekverbruiktye verkoel word.
Voermeulens
Dis redelik maklik om ’n voermeule se werk so te beplan dat die harde werk buite piekverbruiktye gedoen word. Piektye kan vir skoonmaak en onderhoud gebruik word.
Droërs
Met goeie beplanning kan droërs minder elektrisiteit gebruik deur die verhittingselemente en selfs die waaiers vir kort tye af te skakel sonder om die produk of die droogproses te benadeel.
Sorg ook dat die droër se lugkanale oral goed verseël is sodat geen warmte verlore raak nie.
Dierebehuising
As dierebehuising van die begin af reg opgerig is, benodig dit heelwat minder energie vir temperatuurbeheer.
Behoorlike dakisolasie verseker ’n koel omgewing regdeur die jaar en dit beteken dat die boer minder geld aan klimaatbeheer hoef te spandeer.
’n Dak wat silwer geverf is weerkaats ook warmte van die struktuur af wat die koste van temperatuurbeheer verminder.
Dierebehuising se lang mure moet noord en suid kyk en die kort mure oos en wes. Dit help om van die warmte wat deur die dag in die behuising opbou ontslae te raak.
Onthou, as jy natuurlike ventilasie in dierebehuising wil gebruik, moet die gebou nie breër as twaalf meter wees nie. Wind trek nie ordentlik deur ’n gebou wat breër as dit is nie.
Kweekhuise
Dubbel geïsoleerde kweekhuise behou warmte baie doeltreffender en bring dus ’n welkome energiebesparing mee.
Alternatiewe energiebronne
Vir noodtoestande is die beste alternatiewe-enenrgiebron ’n kragopwekker wat met diesel of petrol werk, maar daar is ook ander bronne van alternatiewe energie wat die boer op die plaas kan inspan.
As daar ’n goeie hoeveelheid mis op die plaas geproduseer word, kan ’n biogasinstallasie ingespan word om warmte en elektrisiteit te produseer. Een hoenderhen produseer 55 kg mis per jaar en een ton hoendermis kan 130 m3 biogas maak waarmee aangepaste diesel- of petrolenjins aangedryf kan word.
Agterna is die gebruikte mis boonop voortreflike bemesting.
Vir meer inligting oor biogaskrag, skakel Biogas-power by 086-124-6427 of e-pos.
Sonpanele kan ook elektrisiteit verskaf om water te pomp en om batterye te laai vir beligting of ander laeverbruiktoepassings.
Die probleem daarmee is dat dit nie genoeg elektrisiteit voorsien vir hoëverbruiktoepassings nie, dat dit duur is, dat dit ’n beperkte leeftyd het, dat dit dikwels gesteel of deur hael beskadig word en dat dit dikwels skoongemaak moet word om doeltreffende werking te verseker.
Sonkrag kan ook gebruik word om water te verhit. Daar is hoogs doeltreffende, duur sonwaterverwarmers, maar met swart politeenpyp op ’n dak kan ’n mens ook ver kom.
Windenergie kan ook gebruik word om batterye te laai en waar water sterk vloei kan wateropwekking ingespan word.
Volgens Eskom se kenners is die antwoord gewoonlik ’n dubbelstelsel waar ’n alternatiewe energiebron of bronne gebruik word om die gewone elektrisiteitsvoorsiening aan te vul.
Vir meer inligting oor doeltreffende energiebenutting, besoek www.eskom.co.za/dsm