Ent-nou-teen-slenkdal
Die department van Landbou het ‘n beroep op boere gedoen om so gou as moontlik hulle diere teen slenkdalkoors in te ent. Die departement sê in ‘n verklaring navorsing het getoon dat hoë reënval van Desember tot Februarie kan bydra tot uitbrekings van slenkdalkoors. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het juis ‘n waarskuwing uitgereik dat La Nina-toestande in hierdie tyd tot bo-normale reënval kan lei.
Gedurende die 2010-epidemie is minstens 8 800 diere dood en ‘n verdere 3 600 het in 2011 gevrek. Hierdie syfers neem nie ongerapporteerde aborsies in ag, asook verlaagde produksiesyfers in die toekoms nie. Die departement sê die langtermyngevolge op die kudde is meer verreikend as wat mense dink.
Slenkdalkoors kan ook mense siek maak, veral diegene wat die karkasse van besmette diere hanteer. In 2010 was daar 238 bevestigde gevalle van mense wat die siekte opgedoen het en 26 van die mense is dood. Van 1 Januarie 2011 to 24 Junie 2011, het nog 37 mense slenkdalkoors opgedoen, maar daar was gelukkig geen sterftes nie.
Drie soorte entstowwe is by Onderstepoort Biologiese Produkte of plaaslike veeartse beskikbaar.