En-toe-hael-dit-ook-nog…
‘n Haelstorm het gisteraand by Groblershoop in die Noord-Kaap verdere skade aan oorstroomde wingerde aangerig. Mnr Hoffie Joubert van die Oranjerivier Landbou-unie vertel meer…
“Wat die water nie gevat het nie, het die hael kom slaan.” So beskryf mnr Hoffie Joubert die lot wat die boere van Groblershoop getref het. Hy self boer tussen Upington en Keimoes en het die haelstorm vrygespring, maar hy wag ook maar soos die ander boere langs die sameloop van die Oranje- en die Vaalrivier dat die water sy vernietigingswerk moet kom voortsit.
Die watervlak in die rivier is tans 7,3m en gaan na verwagting na môre toe met nog 40cm styg. Mnr Joubert sê die vloed is op plekke nie so sterk en hoog soos die eerste vloed ‘n paar weke gelede nie, maar die skade gaan waarskynlik groter wees: “Die grond is baie nat en sag en die plante kan sommer maklik ontwortel – dan praat ons van langtermynskade.”
Ondertussen is boere besig om te red wat te redde is. Alle lande langs die rivier wat nie onder water is nie, se druiwe word geoes, of hulle heeltemal ryp is of nie. By baie lande kan trekkers nie inkom nie en word alles in kratte uitgedra.
Mnr Joubert sê enige vorige beramings van skade is omver gewerp deur die nuwe vloed.
Hy wou hom nie uitspreek oor die Departement van Waterwese se beleid ten opsigte van die uitlaat van water uit damme nie, want soos hy sê: “Ons het al vroeg in Januarie vir die beleid gevra en ons wag nou nog om dit te kry.”
Ondertussen berig Volksblad dat sowat 300 kinders op Kanoneiland nie by die skool kan uitkom nie nadat die brug tussen Kanoneiland en die Louisvale-brug die naweek gesluit is.
’n Komitee is aangewys om die vloedskade in die distrik Kakamas te bereken. Mnr Hanlo Barnard, ’n boer van Kakamas, sê volgens die komitee kan die boere tussen Kakamas en Augrabies die grootste skade ly.
Water het oor die kop van sowat 86% van sy wingerde gespoel.
“Dit lyk soos winter. Dit is ’n oesjaar wat dood is.”
Mev Linda Page, nasionale woordvoerder van die departement van waterwese, sê die Vaaldam se watervlak kan vandag op 108% te staan kom. Ses vloedsluise is steeds oop, met ’n uitvloei van 740 kumek.
Die Gariepdam is 121% vol, met ’n invloei van 4300 kumek en ’n uitvloei van 3000 kumek. Die Vanderkloofdam is 113% vol, met ’n invloei van 3000 kumek en ’n uitvloei van 2300 kumek.
Die Bloemhofdam het ’n uitvloei van 1400 kumek, en is 93% vol.