Categories: NewsPublished On: 22nd November 2010

Elektrisiteitskoste: Besproei sonder geldmors

By 4 min read

Skokkende elektrisiteitspryse raak almal, maar veral die besproeiingsboer. Wat kan u as boer doen om steeds wins te toon ten spyte van hoë elektrisiteitskoste?

Daar is baie korrekte dinge om te doen, soos son- en windenergiebenutting, maar die vraag is of die kapitale uitleg bekostigbaar en regverdigbaar is. Ons moet dus na die grondvlakbeginsels gaan kyk om met die kleinste uitgawe die grootste wins te behaal.

Ek gaan net ’n paar slaggate uitwys. Enige besproeiingstelsel bestaan uit drie basiese komponente; ’n pomp, pyplyn om die water by die land te kry en die verspreidingstelsel op die land.

Kom ons hanteer eers bestaande stelsels: Hier is die kapitaal reeds uitgelê en, soos met ’n pyplyn wat byvoorbeeld te dun is, gewoonweg te duur om te vervang. Die stelsel kan op ’n eenvoudige uitskakelingsgrondslag geëvalueer word. Die verspreidingstelsel kan bestaan uit kanonspuite, kruipspuite, sprinkelaars (verskuifbaar, semi-permanent of permanent), spilpunt, mikro- of drupbesproeiing.

Alhoewel kanon- en kruipspuite van die hoër energieverbruikers is per millimeter water wat werklik geplaas word en drupbesproeiing van die laer energieverbruikers is, is dit ’n baie veralgemeende stelling. ’n Swakontwerpte drupstelsel kan verbasend naby ’n goedontwerpte sprinkelstelsel kom met energieverbruik.

Basiese beginsels:

  1. Maak alle lekke in die stelsel reg; dit is water wat jy teen ’n koste pomp wat wegloop of onnodig op kolle in die land mors/oorbesproei en boonop jou kunsmis uitloog.
  2. Is die pomp groter as wat nodig is om die betrokke besproeiingstelsel op drukte hou? Die basiese kilowatt-berekening word so gedoen: volume vermenigvuldig met die druk, gedeel deur die pompdoeltreffendheid. Onnodige druk en onnodige volume kos regstreeks geld! Moet dus nooit ’n kraan smoor nie; sny liewer die pomp stuwer tot op die regte grootte of gebruik ’n kleiner pomp. As jy daardie ondoeltreffende, oorgroot pomp wat jy by die buurman/veiling gekry het en maak werk het op die stelsel met die regte pomp vir die taak vervang, kan jy gou en relatief goedkoop ’n groot elektrisiteitsbesparing bewerkstellig.
  3. Aan die pyplyn kan nie veel gedoen word nie, tensy dit soveel dunner is as wat werklik benodig word, dat ’n kosteberekening aantoon dat ’n hulppyplyn geregverdig is.
  4. Waar die verspreidingstelsel groot herstelwerk of opgradering benodig, kan dit, waar prakties, met ’n stelsel vervang word wat laer druk vereis. ’n Hoëdrukkanon of -kruipspuit (4 tot 8 bar op die spuit) kan met ’n sprinkel- of permanente stelsel (3 tot 3,5 bar op die spuit) vervang word, of waar die oppervlak dit regverdig met ’n spilpuntstelsel (1 tot 1,5 bar op die spuit). ’n Drup-stelsel wat wel met soortgelyke druk as ’n spilpunt werk, is gewoonlik meer prakties vir permanente gewasse. Wanneer nuwe stelsels vergelyk word, moet daar spesifiek opgelet word na die grootte motor wat aanbeveel word teenoor die aantal hektaar besproei en die ontwerpstoediening (mm/24h) van die stelsel.

Vra spesifiek of die kragbehoefte verminder kan word deur dikker hoof- en verspreidingslyne te gebruik of, in die geval van spilpunte, dikker hooflyne en spilpuntpype Ander soorte stelsels kan ook so vergelyk word.

Vergelyk die hoër koste hiervan teenoor die kragverbruikbesparing. Projekteer dit met die verhoogde elektrisiteitskoste en jy sal verbaas wees hoe gou dit gelykbreek.

Vir hierdie berekening en algemene vergelyking, is dit wenslik om die as-kW van die pomp te gebruik in plaas van die motor-kW. Vra die stelselontwerper hierna. (Twee stelsels kan byvoorbeeld elk ’n 75 kW motor gebruik omdat dit die volgende grootte naas ’n 55 kW is. Terwyl die meer doeltreffende stelsel ’n as-kW van 56 mag hê, kan die ander stelsel ’n as-kW van 68 kW hê; albei loop met 75 kW motors, maar die werklike verbruik verskil
met 12 kW!)

Algemeen: Verdere besparing kan bewerkstellig word met die gebruik van kapasitors (power factor correction capacitors) en in sommige gevalle met elektroniese aansitters (soft starters & variable speed drives [VSD]). Verstelbare elektroniese aansitters (VSD) kan groot besparings meebring waar een pomp vir stelsels van verskillende soorte of groottes gebruik word, deur die spoed van die pomp elektronies aan te pas sodat die pomp altyd op sy optimum vir elke stelsel funksioneer.

(*Inligting in die artikel is veralgemeen om basiese beginsels te verduidelik en nie noodwendig die enigste of absolute antwoord nie. Kontak ’n besproeiingskundige om u in u spesifieke situasie by te staan.)

As u enige verdere vrae het, skakel Theuns Dreyer van SENTER 360 by 082-564-5955 of 018-469-1331.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment