Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 5th March 2025

Egpaar doen baanbrekerswerk met rooikat-identifikasie

By 3 min read
666 words

animal-4247257_1920

Twee jong navorsers van George het baanbrekerswerk verrig met die identifikasie van rooikatte. Dit is die eerste keer dat individuele rooikatte met behulp van merke op die gesig identifiseerbaar word.

Drs Zanri en Tiaan Strydom, wat die afgelope twaalf jaar saam Natuurbewaring by Nelson Mandela Universiteit se George-kampus studeer het, is die afgelope twee jaar die bestuurders by die Dunefields private Natuurreservaat sowat 10 km vanaf Wildernis in die Suid-Kaap. Hulle het sedert 2022 die rooikatte in die reservaat met behulp van veldkameras afgeneem en die dowwe merke op die diere se gekarteer sodat individuele rooikatte identifiseer kan word.

Hoewel die velpatrone van ander katspesies, insluitend luiperds, jagluiperds, jaguars, poemas en tiere al lankal gebruik word om individue met behulp van die kol-of rosetpatroon te identifiseer is daar nog altyd geglo dat die dowwe merke op rooikatte se gesigte nie vir die doel gebruik kan word nie. Selfs leeus kan aan die patroon van hulle snorbaarde en ou littekens op die lyf identifiseer word. En nou het rooikat se kind ook ՚n vingerafdruk, al is dit ՚n dowwe een wat ՚n kennersoog met behulp van duidelike foto’s kan uitken. Met behulp van die identifikasie van individuele diere kan hulle bevolkingsdinamiek, gedrag en genetiese verskeidenheid ontleed word sonder dat die diere gevang, gemerk of gekraag hoef te word sodat hulle bewegings gemoniteer kan word.

Bestuurshulpmiddel

“Dierebevolkings is onder druk weens interne faktore soos die dier se plek in die hiërargie in die gebied, vrektes of verspreiding na ՚n ander gebied, of eksterne veranderinge soos habitatverlies of -fragmentasie, trofeejag of stropery,” sê die wetenskaplike artikel wat die Strydoms pas in die African Journal of Wildlife Research gepubliseer het.

Dit is belangrik om die uitwerking van eksterne stremmingsfaktore wat die diere se voortbestaan bedreig te moniteer en te bestuur. Sulke monitering is slegs moontlik as die individuele diere identifiseer kan word. Zanri en Tiaan het met hulle navorsing bewys veldkameras is ՚n doeltreffende manier om die patrone op rooikatte se gesigte te identifiseer, al is die merke nie so duidelik soos die van die ander katspesies nie.

Rooikatte kom wydverspreid in verskillende biome suid van die Sahara, Sentraal-Asië, Suidwes-Asië en Indië voor. Soos die ander gekolde katspesies is hulle alleenlopend en kom net bymekaar om te paar. Die mediumgrootte rooikat is eenvormig bruinrooi van kleur en het ՚n kort stert. Die agterkant van die ore en die haarklossies op die punte van
die ore is swart. Die enigste kolle is rooi van kleur en kom onder die maag en op die bors voor waar dit nie juis vir identifikasie gebruik kan word nie.

Dunefields Private Natuurreservaat

Met behulp van foto’s wat oor ՚n tydperk van twee jaar met veldkameras regdeur die reservaat geneem is, kon Zanri en Tiaan bepaal dat die dowwe merke op die rooikat se gesig tog geskik is vir die identifikasie van individuele diere.

Belangrikheid van identifikasie

Met behulp van die unieke merke op die rooikatte se gesigte kan toekomstige navorsing sonder om die diere te hanteer meer lig werp op bevolkingsdigtheid en verspreiding in die landskap. Insig wat so verkry word raak al belangriker vir moderne bewaringspraktyke, veral in die lig van krimpende habitatte met al minder veilige korridors vir die rooikatte se beweging, en dan ook nog vervolging deur boere op plase waar rooikatte blameer word vir veevangste. Habitatverlies en -fragmentasie beïnvloed bevolkingsdigtheid en -verpreiding wat weer ՚n invloed op
genetiese diversiteit het. Identifikasie van rooikatte is dus belangrik vir toekomstige bestuur van kleiner en gefragmenteerde bevolkings om te verseker dat hulle in hierdie landskappe bly voortbestaan.

Met die identifikasie van individuele rooikatte op hierdie manier het Zanri en Tiaan belangrike inligting bekom oor die aantal rooikatte in die reservaat. Die inligting oor habitatbenutting en die beweging van die rooikatte in die gebied het die belangrikheid van Dunefields Private Natuurreservaat as ՚n veilige korridor wat deur ՚n groter landskap beweeg bevestig.

Kontakbesonderhede

Kontak dr Zanri Strydom by zanri@dunefields.co.za vir meer inligting. Of lees die artikel by https://doi.org/10.3957/056.055.0195

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0