Categories: NewsPublished On: 11th May 2011

Eet vleis en word maer

By 4 min read
Agt Europese navorsingsentrums het in ‘n gesamentlike studie bevind dat ‘n lae GI-dieet wat hoog in proteiene is, die beste vir gewigsverlies is. Die Skaapvleisbemarkingsforum sê in ‘n verklaring dat die grootste studie wat nog ooit in die wêreld oor diëte en vetsug onderneem is, toon dat die meeste lande se dieet-riglyne nie in die kol is nie en onvoldoende is om vetsug te voorkom.
 
In dié studie, wat onder leiding van die Fakulteit van Lewenswetenskappe (LIFE) van Kopenhagen Universiteit onderneem is, is bevind dat mense wat gewig wil verloor minder verfynde stysel soos brood en rys moet inneem, en meer kos moet eet wat hoog is in proteïene, soos maer vleis, lae vet-suiwelprodukte en bone.
 
Altesaam 772 families, bestaande uit 938 grootmense en 827 kinders, het aan die Europese Diogenes dieet-studie deelgeneem. Die resultate is in die New England Journal of Medicine gepubliseer.
 
Die 938 oorgewig grootmense het aanvanklik ‘n dieet om gewig te verloor gevolg waarin 800 kalorieë per dag oor ‘n tydperk van agt weke ingeneem is. Daarmee het hulle gemiddeld elf kilogram verloor. Daarna is hulle by vyf verskillende lae-vet dieet-tipes ingedeel wat hulle vir ses maande moes volg, in ‘n poging om te bepaal watter dieet die mees doeltreffende is om te voorkom dat hulle weer gewig optel. 
 
Die diëte se proteïen-inhoud en glukemiese indeks (GI) het verskil. GI is ‘n maatstaf van die moontlikheid waaroor koolhidrate beskik om bloedglukose-vlakke te verhoog wanneer dit in die liggaam opgeneem word. Kos met ‘n lae glukemiese indeks (LGI) laat die bloedglukose-vlakke stadiger en tot op laer vlakke styg in vergelyking met kos wat hoog in koolhidrate is met ‘n hoër glukemiese indeks (HGI).
 
Grootmense
 
Van die 938 grootmense wat aan die studie deelgeneem het, het 548 die hele tydperk volgehou.   Die groep wat op die hoë proteïene-dieet met ‘n lae GI was, was die enigste persone wat hul gewig gehandhaaf het ná die aanvanklike gemiddelde verlies van 11kg. Daar was ook meer mense wat met die dieet volgehou het in die groep. 
 
Dit kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat ‘n lae GI-dieet tot stadiger vertering van kos lei, sodat die bloed se glukose-vlakke meer stabiel is en ‘n mens goed laat voel. Proteïene is ook meer vullend as koolhidrate en vet, met die gevolg dat ‘n mens nie weer so gou honger word nie.
 
‘n Dieet met ‘n hoë inhoud van proteïen bevat baie proteïen-ryke kos soos maer vleis, pluimvee, vis, eiers en lae-vet suiwelprodukte. Bone en neute bevat ook hoë vlakke van proteïen. 
 
Kinders
 
Altesaam 827 kinders het aan die studie deelgeneem. Van hulle is daar nie verwag om aan ‘n dieet vir gewigverlies deel te neem of om kalorieë te tel nie, hulle het bloot dieselfde kos as hul ouers geëet, wat ook aan die studie deelgeneem het. Ongeveer 45% van die kinders in die betrokke families was oorgewig.
 
In die groep kinders wat ‘n hoë proteïen/lae GI-dieet gevolg het, het die voorkoms van oorgewig spontaan met ongeveer 15% in net ses maande gedaal. Dit bewys dat vetsug in kinders verhoed kan word, deur die eetplan wat in die huishouding gevolg word, net ietwat aan te pas.
Suid-Afrika
 
Professor Hettie Schönfeldt van die Skaapvleisbemarkingsforum sê die uitslag van dié studie is in lyn met die nuutste navorsing wat in Suid-Afrika op rooivleis gedoen is. Dit het die volgende bevind:
 
Suid-Afrikaanse rooivleis is ‘n hoë gehalte-proteïen wat al die noodsaaklike aminosure verskaf. Dit is nodig vir groei, beheer en instandhouding van liggaamsweefsels en –funksies. Dit help om bloeddruk te verlaag en help met gewigsbeheer omdat dit ‘n mens langer versadig laat voel. 
 
Rooivleis help om bloedsuikervlakke te reguleer en bevat natuurlike anti-oksidante en goeie vetsure (omega 3- en omega-6 vetsure). Verder is Suid-Afrikaanse rooivleis ryk in verskeie minerale, soos yster, sink, magnesium en selenium, sowel as vitamiene B1, B2, B3, B6 en B12.
 
Vir meer inligting en resepte kontak Prof Hettie Schönfeldt van die Skaapvleisbemarkingsforum by info@healthymeat.co.za of besoek www.healhtymeat.co.za.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0