Drupbesproeiing-laat-wins-stroom-–-as-dit-reg-bestuur-en-onderhou-word
Een van die mees doeltreffendste besproeiingsmetodes is drupbesproeiing, wat die afgelope vier dekades reuse vordering gemaak het in tegnologiese ontwikkeling.
Dit is juis suksesvol omdat drupbesproeiing ’n metode is wat water teen ’n stadige tempo op die grondoppervlakte of regstreeks in die wortelsone toedien.
Die gebruik daarvan het van 3-miljoen hektaar in 2000 tot meer as 9-miljoen hektaar in 2010 toegeneem. Dit is egter steeds ’n klein gedeelte van die meer as 300-miljoen hektaar van alle besproeiing wat vandag in die wêreld toegepas word. In Suid-Afrika word tans net meer as 150 000 hektaar uit die 1 500 000 hektaar van alle soorte besproeiing, drup besproei.
Ongeag die suksesse, is daar bewyse in die literatuur dat hierdie stelsel net so ondoeltreffend as enige ander stelsel kan wees as die watergehalte en bestuur swak is.
Verstopping van die druppers is een van drupbesproeiing se ernstigste probleme. Maatreëls om dit te voorkom sluit in goeie filtrering, spoel van laterale en chemiese behandeling van die drupperlyne.
Moderne drupbesproeiing het vanaf ’n eenvoudige waterbronbestuurstelsel ontwikkel tot ’n ingewikkelde, kennisintensiewe bestuurstelsel wat die chemiese, fisiese en biologiese omgewing manipuleer waarin die plant funksioneer.
Vandag kan boere dus drupbesproeiingstelsels koop wat tegnologies gevorderd en betroubaar is. Behalwe tegnologies gevorderde produkte (filtreerders, beheertoerusting en druppers) sluit hierdie tegnologie
ondere meer outomatisasie-stelsels in wat met toegespitste boerdery-beginsels inskakel om saam met die
waterplasing presisiekunsmistoediening te doen soos en wanneer die plant dit nodig het.
Sukses met drupbesproeiing word verseker as die volgende belangrike aspekte in ag geneem word:
- Grondtipe: Kleileem- en kleigrond versprei die water sywaarts beter as sanderige grond.
- Tipe drupper: Verskillende druppers se weerstand teen verstopping verskil.
- Wanddikte: Dunwand- sowel as dikwandpype kan gebruik word.
- Spasiëring: Grondtipe en koste bepaal dit grootliks.
- Filtrering: Filtrering is noodsaaklik en verkieslik moet sandfiltrering gebruik word.
- Ontwerp: Drupbesproeiing is ’n gespesialiseerde veld en vereis ’n goeie ontwerp.
- Bestuur: Drupbesproeiing vereis noukeurige bestuur.
Verder is dit nodig om voortdurend goeie onderhoud toe te pas. Tabel 1 wys die basiese aspekte wat gemoniteer moet word om te verseker dat die stelsel reg werk.Drupbesproeiing verseker suksesvolle produksie mits dit reg gekies, onderhou en bestuur word.