Droogte saai orals verwoesting

aartappelsweb
Die droogte dreig om Suid-Afrika se ekonomie tot op sy knieë te dwing en dit is nie net boere wat geraak word nie. Volgens die Demokratiese Alliansie (DA) staar Kleinsake-ondernemings (KSO’s) ook mislukking in die oë en hulle was die hoop om Suid-Afrika se werkloses te help.
Dringende ingryping vanaf die regering is nodig om te verhoed dat entrepreneurs moed verloor en ophou sake doen.
Die klante van ondernemings moes al oor die feesseisoen hulle sente tel, met die voedselprys wat volgens voedselprysbarometer PACSA (Pietermaritzburg Agency for Community Social Action) die afgelope drie maande met 9% gestyg het.
Aartappels het met 109,5% vir ‘n 10 kg sakkie gestyg, spinasie met 82,5% (vir vier spruite), kool met 78,8% (vir twee koppe) en uie met 65,9% (vir ‘n 10 kg sakkie).
Vlakke van besteding aan produkte van KSO’s gaan sterk afneem soos die jaar vorder, omdat klante noodwendig hul hande dieper en dieper in hulle sakke gaan steek vir voedsel.
‘n Tekort in aanbod en verlaagde verbruikersbesteding gaan informele handelaars en kleiner besighede, wat verantwoordelik is vir 47% van Suid-Afrika se indiensneming, dubbeld tref. Die produkte wat hulle verkoop word doodeenvoudig te duur vir hulle vernaamste klante, naamlik gemeenskappe wat onder die broodlyn leef en werkloosheidsvlakke wat hoër raak.
Waar groter besighede beter toegerus is vir ‘n verlaging in omset en winsmarges, is KSO’s aansienlik meer kwesbaar. Volgens ‘n verslag van Stats SA het amper 2 000 KSO’s hulle deure die vorige jaar gesluit.
Die effek van die droogte kan verwoesting saai onder lopende sake wat moeilik weer die mas sal opkom. Die huidige droogte kan kleinsake-eienaars dryf tot op moedverloor se vlakte. Kanse van oorlewing van hulle besighede word by die dag skraler soos die krisis van die droogte verdiep.
Die langsame ontwikkeling en die onsekerheid oor die tydsduur en intensiteit van ‘n droogte maak dit moeilik vir besighede om sakeplanne te laat klop.
Lindiwe Zulu, minister van Kleinsake-ontwikkeling, het onlangs amper R700 000 geblaas op ‘n sakereis na Brittanje en Frankryk.
Sy kon daardie reuse-bedrag veel eerder spandeer het op ‘n reis deur Suid-Afrika, om haar te vergewis van die ware toedrag van sake en die penarie waarin ons sakegemeenskap hulself bevind, sê Henro Kruger van die DA.
Besigheidsdeure is besig om te sluit, informele varsprodukverkopers word merkbaar minder en sosio-ekonomiese probleme is aan die toeneem.
Henro sê: “Minister Lindiwe moet vinnig met ‘n werkbare oplossing na vore kom.”
Bron: Demokratiese Alliansie persverklaring deur Henro Kruger MP