Droogte raak mielie-oes
Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is met amper 2% afwaarts aangepas. Die Nasionale Ooesskattingskomitee het die oes op 10,831 miljoen ton gestel, wat 1,93% of 212 800 ton laer is as die vorige skatting van 11,044 miljoen ton.
Die Komitee sê in sy verslag die verwagte opbrengs van mielies is verlaag hoofsaaklik as gevolg van die droogtetoestande in Mpumalanga en die Vrystaat, wat die opbrengste beïnvloed het. Die skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,372 miljoen ha, wat 0,46% of 11 000 ha minder is as met die vorige skatting. Die verwagte opbrengs is 4,57 t/ha teenoor die 4,63 t/ha van die vorige skatting.
Die oppervlakteskatting van die groostste mielieproduserende provinsies is gegrond op inligting soos verkry vanaf die Produsente Onafhanklike Oesskattingstelsel (“PICES”).
Die oppervlak onder witmielies is 1,418 miljoen ha en vir geelmielies is dit 954 000 ha.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 831 220 ton, wat 22 800 ton meer is as die 808 420 ton van die vorige skatting. Die hersiene oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 642 700 ha, wat 23 000 ha meer is as die 619 700 ha van die vorige skatting. Die verwagte opbrengs is 1,29 t/ha teenoor die 1,30 t/ha van die vorige skatting.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is 709 350 ton, wat 19 700 ton minder is as die 729 050 ton van die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 418 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,70 t/ha is teenoor die 1,74 t/ha van die vorige skatting.
Die verwagte grondbone-oes is 85 575 ton, wat 1 050 ton meer is as die 84 525 ton van die vorige skatting. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 55 150 ha, wat 500 ha meer is as die 54 650 ha van die vorige skatting. Die verwagte opbrengs is 1,55 t/ha.
Die produksieskatting van sorghum is 201 800 ton, wat 7 500 ton minder is as die 209 300 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum het gedaal met 1 000 ha tot 69 200 ha teenoor die vorige skatting. Die verwagte opbrengs is 2,92 t/ha teenoor die 2,98 t/ha van die vorige skatting.
In die geval van droëbone is die produksieskatting 50 520 ton, wat 5,04% minder is as die 53 200 ton van die vorige skatting. Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 41 900 ha, en die verwagte opbrengs is 1,21 t/ha teenoor die 1,27 t/ha die vorige skatting.