Categories: NuusPublished On: 24th June 2025

Drie Karan Beef voerkrale onder kwarantyn

By 3 min read
632 words

karan beef

Karan Beef het bevestig dat drie van hulle voerkrale in Gauteng en KwaZulu-Natal met bek-en-klouseer besmet is. Die uitbreking in Gauteng wat by die Heidelberg-voerkraal begin het, het versprei na nog ‘n voerkraal 30 km daarvandaan, asook by die Albert Falls naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

“Sowat 160 000 beeste in hierdie drie voerkrale is tans onderworpe aan BKS-beheermaatreëls,” bevestig Anso Bracken, Karan Beef se bemarkingsbestuurder. Satelliet-voerkrale word nie geraak nie.

Karan Beef het BKS-entstof van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling ontvang. Dit vorm deel van die besending entstof wat verlede week vanaf Botswana Vaccine Institute (BVI) ontvang is. Minister van Landbou John Steenhuisen het vroeer bekend gemaak dat meer as 900 000 ampules entstof van BVI bestel en dat dit verlede Donderdag in die land sou aankom. Volgens Anso beheer die staat die entstof wat toegewys sal word aan kuddes wat positief vir BKS getoets is. Toestemming is vroeër verleen dat beeste by voerkrale ingeënt mag word.

Anso sê buiten Karan se standaard biosekuriteitsprotokolle, word streng maatreëls  gevolg om alle voertuie en personeel by Karan Beef se voerkrale te ontsmet.

Geen diere sal ook verskuif word voordat die onderskeie owerhede die groen lig gee dat slagtings mag voortgaan nie.

Sy sê dit is steeds nie duidelik hoe BKS toegang tot Karan se fasiliteite gekry het nie. Ondersoeke duur voort om vas te stel waar die besmette beeste vandaan gekom het. Sy wys daarop dat die virus geruime tyd aktief in Suid-Gauteng sirkuleer het voordat Karan Beef se voerkrale besmet is.

Volgens haar het die uitbreking ‘n enorme finansiële uitwerking. Die vloei van beeste na die voerkrale is onderbreek, wat ‘n tekort aan voorraad tot gevolg het. Die ganse waardeketting is in onsekerheid gedompel. Beesboere, verwerkers, uitvoerders en endverbruikers word ekonomies beïnvloed. Die tydelike staking in alle beweging van vee en normale aktiwiteite by die voerkrale plaas geweldige druk op die boere se voortbestaan, voedselsekerheid en die bedryf se stabiliteit.

Karan Beef se kort- en langtermyn strategie vir die bestuur van die uitbreking is in pas met die amptelike riglyne van die staat. “Ons gaan voort om nou met die nasionale en provinsiale veeartseny-owerhede en die RMIS-strukture saam te werk met die oog daarop om die groter krisis die hoof te bied.”

Minister Steenhuisen het Karan Beef se voerkraal buite Heidelberg gister (23 Junie) besoek. Hy het opnuut bevestig dat BKS nie ‘n gesondheidsgevaar vir mense inhou nie en dat Suid-Afrikaners maar vleis kan gebruik, al is die pryse tans bietjie hoer weens die sluiting  van die voerkraal, die grootste in die suidelike halfrond wat tot 30% van die land se beesvleis voorsien.

Aktiewe gevalle van BKS kom tans in Gauteng, die Oos-Kaap, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Limpopo en Noordwes voor, en uitvoere Sjina en buurlande Namibië, Zimbabwe en Botswana is opgeskort.

Steenhuisen het ook weer ‘n beroep op alle rolspelers in rooivleis-waardeketting gedoen om biosekerheidsmaatreëls stip toe te pas en sodoende ‘n bydrae lewer om BKS hok te slaan. Hy het diegene wat hierdie maatreëls oortree veroorsaak ekonomiese skade vir almal wat by die waardeketting betrokke is en sal swaar gestraf word.

Volgens ‘n mediaverklaring van die Red Meat Industry Services (RMIS), het ‘n sentrale bedryfsentrum teen bek-en-klouseer in RMIS se hoofkantoor in Pretoria in werking getree.

‘n Werkgroep van 16 individue sal onder leiding van ‘n veearts in samewerking met ‘n span kundiges, bedryfsverteenwoordigers en ‘n agentskap vir openbare betrekkinge werk.

Volgens Dewald Olivier, uitvoerende hoof van RMIS, is die werkgroep se mandaat om ‘n gestruktureerde en tydige plan met medium- en langtermyndoelwitte, wat inenting insluit,  teen uitbrekings te ontwikkel en in werking te stel. Die plan is onafhanklik deur prof Dietmar Holm van Universiteit Pretoria se Veeartsenyfakulteit saamgestel.

Bronverwysing

Schenk, H. (2025) Bek-en-klouseer: Koop beesvleis, vra Steenhuisen terwyl inentings begin. Netwerk24

https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/landbou/bek-en-klouseer-koop-beesvleis-vra-steenhuisen-terwyl-inentings-begin-20250623

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0