Drastiese aanpassing van SASRIA-tariewe totaal uit voeling met ekonomiese realiteite

sasria-claims
Vrystaat Landbou (VL) het met skok en ongemak kennis geneem van ʼn drastiese verhoging van SASRIA tariewe op sekere voertuie wat op 1 Februarie 2022 in werking gaan tree.
Die verhoogde tariewe is by wyse van ʼn skrywe aan SASRIA se agente en tussengangers gekommunikeer gedurende September en Oktober 2021 en kan ʼn geweldige aanpassing meebring aan die SASRIA-tariewe van toepassing op trekkers, stropers, self aangedrewe spuite, planters ensovoorts wat in die landbousektor gebruik word. Dié drastiese verhoging
is volgens die kennisgewing van toepassing op HCV geklassifiseerde voertuie (swaar kommersiële voertuie) soos vragmotors wat vir kommersiële vragvervoer teen vergoeding gebruik word.
Francois Wilken, president van VL, meen die aanpassing kan moontlik toegeskryf word aan die geweldige skade wat aan vragmotors aangerig is tydens die oproer in Kwazulu-Natal gedurende Julie 2021. “Die landbousektor, wat alreeds veral in die Vrystaat aan wesenlike
ekonomiese uitdagings blootgestel is, sal eenvoudig nie die tariewe kan bekostig nie!”
Voorbeelde van die aanpassings wat aan VL voorsien is, as volg:
| TIPE | BEDRAG VERSEKER | 2021 SASRIA PREMIE | 2022 SASRIA PREMIE | % VERHOGING |
| TREKKER | R2 800 000 | R52.61 | R966.17 | 1736% |
| TREKKER | R4 270 000 | R80.18 | R1472.37 | 1736% |
| TREKKER | R450 000 | R8.46 | R155.28 | 1735% |
| STROPER | R4700 000 | R87.88 | R1613.86 | 1736% |
| SELF AANGEDREWE SPUIT | R4 200 000 | R78.91 | R1469.93 | 1762% |
| PLANTER | R1 600 000 | R30.06 | R552.10 | 1736% |
| PLAASVRAGMOTOR | R900 000 | R16.91 | R310.55 | 1736% |
Bron: Vrystaat Landbou