Categories: NewsPublished On: 5th May 2011

Dorre Wes-Kaap se boere kry hulp

By 2 min read
314 words

Naastenby 700 boere in die gebied wat strek vanaf Mosselbaai tot Heidelberg sal eersdaags ook droogtehulp van die provinsiale regering ontvang, het mnr Gerrit van Rensburg, die Wes-Kaap se Minister van Landbou en Landelike Ontwikkeling aangekondig.

 
Dit bring die getal boere in die Wes-Kaap wat hulp gaan ontvang op 1400 te staan as die 400 in die Klein Karoo, en die 300 in die Sentraal Karoo en Touwsriviergebied bygereken word.
 
“Alhoewel dit in gedeeltes van die Suid-Kaap gereën het, is areas suid van die Outeniquaberge steeds kritiek droog, en benodig die boere dringend bystand om hulle kuddes te onderhou”, het minister Van Rensburg gesê. 
 
Besproeiingsgebiede aan die voet van die Outeniquaberge het meestal nog water en word nie by die hulpverlening ingesluit nie. 
 
Die droogtehulp word vanuit die Eden Distriksmunisipaliteit se fonds bestuur. Die hulp beloop R46 miljoen. Boere sal teen R480 per grootvee-eenheid en tot `n maksimum van 30 eenhede per boer gekompenseer word. ‘n Eie bydrae van tussen 10% en 30% sal van die boer vereis word, afhangend van die aantal diere wat hy besit. 
 
Minister Van Rensburg het `n dringende beroep op boere gedoen om so spoedig moontlik te verseker dat hulle besonderhede korrek en volledig op die aansoekvorms verskyn. Tipiese ontbrekende inligting is BTW- en SARS-registrasienommers, eiendomsbeskrywings volgens transportaktes en opgedateerde veeregisters. 
 
“Ons benodig hierdie informasie om koopbriewe te kan uitreik, en om te verseker dat die hulp by die regte produsente uitkom”, het mnr Van Rensburg gesê.
 
Boere kan die Wes-Kaap Departement van Landbou se Riversdal-takkantoor skakel by die 028-713-2442 (Wim Filmalter) of die George-kantoor op die Outeniqua navorsingsplaas by 044-874-2047 (Dawie de Villiers) om hulle inligting op die aansoekvorms te bevestig en reg te stel. 
 
Koopbriewe sal vanaf 15 Mei uitgereik word,en is geldig tot en met die einde van Junie.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0