Categories: NewsPublished On: 27th January 2011

Doeltreffende-waterbenutting:-Floppy-laat-elke-druppel-werk

By 4 min read
’n Eienaardige vorm land, min water en hewige bergwinde kortwiek enige ander soort besproeiing hier bo in die poort op Vanzylsdamme naby Ladismith, maar Floppy staan sy man teen al die uitdagings en verseker elke jaar ‘n gawe lusernoes. Jan Nel van Vanzylsdamme Boerdery het sewe jaar gelede self (“maklik”) hierdie stelsel opgerig en hy is steeds ingenome daarmee.

Die volle waarde van elke druppel water – dit is wat die Nels van Vanzylsdamme Boerdery naby Ladismith met hulle Floppy besproeiingstelsel geniet.

Op hierdie plaas is water baie skaars en elke druppel moet ten beste benut word vir die vrugtebome, maar veral ook vir lusernproduksie vir die Holstein-melkery en -stoet.

Die plaas kry drie maal per jaar water uit Floriskraaldam naby Laingsburg vir vloedbesproeiing, maar die res van die tyd is water maar skraps.

Bo in die poort op die plaas is daar ’n kuil in die Grootrivier waaruit water gepomp kan word (as daar is) om 22 hektaar lusern te besproei. Kruipspuite het nie die mas opgekom nie omdat die benutbare grond ’n baie eienaardige vorm het en omdat die water hard en te swaar is en alles laat roes en aanpak.

’n Kantrolstelsel het ook nie geslaag nie, want die sterk bergwind het nie net die waterdruppels weggewaai nie, maar ook sommer die kantrolstelsel self – en in die proses die stomme ding se pype verfrommel.

’n Spilpuntstelsel sou nie werk nie omdat die grond se lang, smal vorm hom nie in ’n sirkel laat dwing nie. Boonop moet jy elektrisiteit tot by die spilpunt aanlê en knaend aandag aan mikroskakelaartjies en pap wiele en lekkende seëls gee, soos Jan Nel van Vanzylsdamme Boerdery elke dag moes doen toe hy in Nevada gewerk het.

André Nel van Irricor op Oudtshoorn het ’n Floppy-stelsel voorgestel en Jan het saam met hom Nelspruit toe gegaan om te kyk hoe dié vernuftige stelsel in die suikerrietlande werk. Net daar het hy besef dat Floppy die aller antwoord vir Vanzylsdamme is.

André het met die beplanning gehelp en Jan het die Floppy-stelsel self opgerig. Dit was eenvoudig en maklik, sê hy. Anders as met ’n spilpunt hoef jy net elektrisiteit tot by die pomp aan te lê en die energiekoste is baie laag. Jy moet net sorg dat die waterdruk 2 bar of meer is om eenvormige en volledige druppelverspreiding te verseker.

Floppy is die enigste stelsel waarmee jy elke hoekie van ’n land met ’n snaakse vorm sonder vermorsing kan besproei, vertel Jan.

“Dis ook die enigste stelsel wat ons kon kry wat met sy lekker groot druppels steeds ’n egalige verspreiding en doeltreffende benatting gee wanneer die wind waai,” sê hy. En op dié plaas is wind ’n faktor waarmee rekening gehou moet word. Met die verandering van seisoene in Mei en Augustus waai daar baie sterk bergwinde, maar die Floppy staan steeds sy man – nou al sewe jaar lank.

Jy werk maklik met enige trekkers en werktuie onder die stelsel en boonop vereis die stelsel baie min onderhoudwerk, vertel Jan. “Ons water het taamlik modder in en ons moet nou en dan ’n pypie skoonmaak of vervang. Die hewige winde verskuif ook soms van die hangertjies en dan spasieer ons dit net weer.

Die groot voordele van die Floppystelsel, sê Jan, is dat dit jou minder geld as enige ander stelsel kos nadat jy dit geïnstalleer het, dat dit ’n baie goeie waterverspreiding bied, dat dit eenvoudig is en dat dit maklik is om mee te werk: jy draai net krane oop en toe, spoel pype uit as daar modder in kom en kyk maar net gereeld dat alles nog lekker werk.

Boonop kan jy kies presies watter baan water moet kry en as die water min is, net een baan op ’n slag besproei. Jy kan ook kunsmis of chemikalieë akkuraat deur die Floppy-stelsel toedien.

“Wanneer jy min water het, kan jy nie bekostig om ’n druppel te vermors nie,” sê Jan. “Dis dan wanneer jy regtig besef hoe ’n Floppy-besproeiingstelsel elke druppel laat werk.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0