DLU waarsku dorpenaars: Oppas vir “arbeidsinspekteurs”
Wees versigtig vir sogenaamde arbeidsinspekteurs. Dit is die waarskuwing van mnr Stephan Hoffmann, voorsitter van die Soutpansberg-distrikslandbou-unie (SDLU) alle dorpsbewoners nadat die Departement van Arbeid aangekondig het dat sogenaamde arbeidsinspekteurs huise gaan besoek om glo inspeksies ten opsigte van minimum lone te doen.
Gulde geleentheid vir misdadigers
Mnr Doors le Roux, veiligheidsverteenwoordiger van SDLU, het dorpsbewoners gewaarsku dat die inspeksie baie maklik deur gesoute misdadigers (wat toevallig ook die media dophou!) gebruik kan word om onregmatig toegang tot woonhuise te verkry.
Mnr Le Roux het belastingbetalers en ander gemeenskapsorganisasies soos skole en kerke aangeraai om met die Departement van Arbeid in gesprek te tree sodat ‘n werkbare ooreenkoms bereik kan word om huishoudings te beskerm.
Op plase word die Plaasbesoekprotokol afgedwing juis om mense teen die misdadigers te beskerm wat hulleself as arbeidinspekteurs voordoen om onregmatig toegang tot wonings te verkry. Die Veiligheidskomitee is heeltemal bereid om organisasies by te staan om so ‘n toegangsprotokol op te stel sodat mense beskerm kan word.
Reël vooraf
Inwoners word ook gemaan om vooraf met huisbediendes te praat en hulle te belet om enige inspekteur toe te laat wat nie vooraf met die huisbewoners ‘n afspraak gemaak het nie.
Mnr Le Roux het gesê dat geen mens jou veiligheid kan delegeer nie. Daarom moet gemeenskappe self daarvoor verantwoordelikheid aanvaar. Gemeenskappe moet self seker maak dat misdadigers nie in hulle gebiede inkom onder die dekmantel van arbeidsinspeksies nie.
Mnr Hoffman sê dat die SDLU goeie verhoudinge opgebou het met die arbeidsinspekteurs in die gebied en daar word sinvol saamgewerk. Geen inspeksie word toegelaat as die afspraak nie deur die SLDU-kantoor gereël is nie. Sowel lede as die inspekteurs vind dit ‘n sinvolle reëling wat die inspeksies sonder haakplek laat verloop.
Mnr Hoffmann het die hoop uitgespreek dat dorpsbewoners hulleself ook so sal kan beskerm.