|
In die Greylingstad-omgewing word daar deesdae van die mielies verwag om te swem. Dit is hoe dit op mnr Willem Pretorius se plaas lyk. Foto: Piet Kemp |
Die aanhoudende reën wat nou al vir langer as ‘n week oor groot dele van die land uitsak, behoort volgens weerkundiges oor die naweek in die noordelike en westelike dele op te klaar.
Dit is egter nie die einde van die groot reën nie en langtermynvoorspellers meen dat die somerreënvalstreek vir die res van die seisoen goeie reën behoort te kry. Ondertussen begin berigte van skade instroom…
Boere van verskeie streke in die land vertel van mielies wat vergeel, sonneblomme wat nie geplant kan word nie en koring wat nie gestroop kan word nie.
Mnr Pietman Botha, senior landboukundige van Graan SA sê in sommige gebiede moes boere weens verspoeling al tot ‘n vierde keer oorplant. Na ‘n swak koringseisoen maak die baie water dinge ook nie juis makliker vir boere in die Oos-Vrystaat wat nog moet stroop nie. Die koring op die lande se gehalte daal by die dag.
Die watervlakke van die vier grootste damme in die Oranjerivier-opvanggebied is steeds aan die styg en die Vaal-, Bloemhof-, Gariep, en Vanderkloof-damme was almal die week tot oorlopens toe vol. Die Departement van Waterwese het inwoners van die gebiede om dié damme gewaarsku om uiters versigtig te wees. Dertien sluise van die Vaaldam moes oopgemaak word.
Dele van die Karoo en Kalahari, asook die droogtegeteisterde Oos-Kaap, Tuinroete, dele van die Wes-Kaap en groot dele van die Noord-Kaap het reeds goeie neerslae ontvang, volgens mnr Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou.
Opvolgreën word vanaf die middel van volgende week in die somerreёnvalgebied en tot so ver as die gebied wes van Upington en selfs ver wes van Springbok verwag, sê mnr Van den Berg. Hy skryf dit toe aan die sterk La Niña-verskynsel vanjaar.
Die uitwerking van die sterk La Niña is nie net in Suid-Afrika gevoel nie. Queensland in die ooste van Australië is deur vloede en oorstromings getref en Argentinië gaan onder droogte gebuk, wat kommer oor veral die soja- en mielie-oeste daar laat ontstaan het.
Hy waarsku dat nog heelwat swaar reёn in die volgende paar maande plaaslik kan voorkom – veral oor die sentrale en westelike dele van die land – omdat daar ‘n sterk korrelasie tussen die reënval in Australië en Suid-Afrika is. Die tydsverskil is gewoonlik een tot drie maande.
Vanaf Februarie kan droër toestande oor die noordoostelike dele begin voorkom.
Dit is nie net gewasse wat onder die baie water ly nie – dit is ook ‘n teelaarde vir verskeie siektes, waaronder die groot riller, slenkdalkoors. Die Vrystaatse departement van landbou het in ‘n verklaring gewaarsku dat só ‘n uitbreking verwag kan word.
Maar natuurlik kla boere nooit te lank of te hard oor reën nie. Soos mnr Piet Kemp, streekbestuurder van TLU SA: Oosstreek sê: “Solank dit reën, groei die gras en dan het jy darem vet bees.”
Verwagting vir die tydperk tot 17 Januarie: (Soos opgestel deur Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou)
Somerreëngebied
Reënval: Opklaring kan plaasvind vanaf ongeveer 7 Januarie oor die sentrale tot westelike gedeeltes. Toestande verbeter weer vanaf ongeveer 12 Januarie tot so ver as die gebied wes van Upington en selfs to so ver wes as Springbok, waar enkele buie moontlik is. Min of geen reën word verwag vir die tydperk vanaf ongeveer 6 tot 12 Januarie oor die Noord-Kaap, die Vrystaat, die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Noordwes Provinsie nie. Opklaring kan ook rondom 8 tot 12 Januarie oor die sentrale tot oostelike gedeeltes van die land plaasvind.
Temperatuur: Baie warm toestande word verwag oor die westelike gedeeltes van die land maar oor die algemeen gaan temperature matig wees as gevolg van die bewolkte en reën-toestande.
Winterreëngebied
Min reën word verwag oor die westelike dele van die Wes-Kaap in die volgende twee weke. Reën is egter moontlik oor die Suid-Kaap asook die aangrensende binneland en Karoo-gebiede, veral vir die tydperk vanaf 10 Januarie.