Dis-‘n-kuns-om-te-boer-in-Japan
Hierdie tyd van die jaar is daar ‘n hele klompie ryslande in Japan wat met sulke kunswerke spog. Dit het niks met kleurstowwe te doen nie, maar alles met presisie plantwerk.
Verskillende kleure rysplante word in patrone geplant en dit is eers as die plante begin groter word dat die prente duideliker uitstaan.
Sowat 15 000 m² se ryslande naby Inkadate is so versier. Van die gedetailleerde werke soos ‘n uitbeelding van Napoleon op ‘n perd, kan net uit die lug uit werklik waardeer word.
Van naby kan die versigtige plasing van die verskillende soorte rys wel gesien word.
Die plaaslike boere het in 1993 met die kunswerke begin as ‘n gemeenskapsprojek en aanvanklik was die ontwerpe baie eenvoudig. Die berg, Iwaki, is gewoonlik uitgebeeld. Die werke het al meer kompleks geword en aandag begin trek. Ooreenkomste is tussen boere gesluit sodat die kunswerke oor etlike boere se ryslande geplant kan word om beter te vertoon vanuit die lug.