Categories: NewsPublished On: 29th June 2010

Dis lekker en lonend om kuilvoer te maak met Feraboli se knap kerwer

By 3 min read

Dis lekker om te boer as jy die regte toerusting het! So ’n stuk nommerpas, lekkerboer toerusting is Southtrade se Feraboli 946-kuilvoerkerwer soos wat Chris Louw en sy pa, oom Dirk, van Jonkersfontein in die bulte net buite Heidelberg, Kaap, inspan om vir hulleself en ander boere koningskuilvoer te maak.

Dis duidelik dat die Feraboli 946 se ontwerpers die boer en sy behoeftes ken, want sowat van doeltreffende veelsydigheid en taai betroubaarheid het jy nog nie aanskou nie.

Saam met die basiese kerwereenheid kan jy ’n tweery mieliesnyer, ’n opteller of ’n kleingraan- en grassnyer kry. Die Louws het op die mielie-snyer en die opteller besluit, want hulle het ’n koringplatsnyer waarmee hulle die ander kuilvoergewasse sny.

Om ’n Feraboli by Southtrade te koop is geen waagkans nie, sê oom Dirk. Hulle het immers in 1992 reeds twee Feraboli-enkelrykuilvoerkerwers aangeskaf en tot in 2007 wonderlike diens uit dié twee staatmakers gekry met die minimum herstelwerk. “En ons boere is soms maar ’n bietjie hard op werktuie,” erken hy.

Die masjiene is so eenvoudig dat hulle alles self kon regmaak en al die onderdele wat hulle nodig gekry het, kon hulle sommer plaaslik oor die toonbank koop. Die swaardiens-kragaftakkerkruisskakels wat hulle aangesit het, werk tot vandag toe. Altwee die kerwers kan nog werk, maar hulle het die nuwe dubbeldoelkerwer gekoop omdat hy perfek is vir sowel mielies as kleingraan.

Bowendien het die kerwer sommer ’n hele boel wenkenmerke wat sake vir die boer makliker en doeltreffender maak.

Een daarvan is die geskarnierde montering. Dit stel jou in staat om die kerwer om te swaai sodat hy òf langs die trekker loop as jy vorentoe sny òf presies agter die trekker wanneer jy die land in trurat wil aandurf.

Dit beteken dat jy ’n nuwe baan in ’n land kan oopmaak sonder om ’n paar rye mielies in die grond in te vertrap.

En as jou baan oop is, swaai jy die hele kerwer woerts-warts aan sy skarnier om en daar gaan jy volstoom vorentoe met die kerwer ewe getrou skuins agter die trekker.

Mielies sny hy skoon af en kerf dit netjies met koppe en al, selfs teen ’n hoë stand onder besproeiing wat tot 110 ton kuilvoer per hektaar lewer.

Kleingraan is ’n taaier kalant wat ’n kerwer se lemme tot die uiterste beproef, veral as dit effens verlep is, sê Chris, maar die Fera­boli se slypmeganisme stel sake gou-gou reg. Dis in elk geval beter om maar altyd te probeer om reg agter die snyer op te tel en te kerf.

Die opteller van 1,6 meter tel skoon op sodat niks verlore gaan nie en die reguit pad wat materiaal deur die masjien volg, verseker die beste, mees ekonomiese benutting van trekkerkrag. ’n Skamele 49 kW is nodig om die werk te doen.

Die driepuntmontering stel jou in staat om teen hellings te werk, waar sleepmodelkerwers altyd van koers af dwing. ’n Sleepmodel sukkel ook om sy draaie in ’n klein land te kry, maar met die Feraboli glip jy by die een ry uit en by die ander een in.

Na een seisoen se werk het die Louws nog geen staantyd met hulle Feraboli 946 gehad nie. “Hy sal volgende seisoen ook nie staantyd hê nie,” sê oom Dirk, “want ons ghries hom gereeld en hou hom skoon en probeer nie om klippe te kerf nie.”

Die Feraboli bied uitmuntende waarde vir geld. Hy kan homself binne twee jaar betaal, sê oom Dirk.

Praat met Danie Degenaar by 021-981-6044 of 082-214-0883 vir meer inligting oor Southtrade se boer-vriendelike produkte en toegeweide diens.
 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0