Categories: NewsPublished On: 7th December 2010

Dis-in-’n-kits-die-beste-vir-jou-diere-op-met-Jupidex-se-Taarup-614-voermenger

By 4 min read
837 words

Vinniger, deegliker, egaliger, betroubaarder – dis hoe Jupidex se Taarup 614-voermenger werk om vir die diere die akkuraatste rantsoen en vir die boer die grootste wins op te dis.

Een van die talle tevrede boere wat so sê, is Johan Grobbelaar van Driekoppies Boerdery naby Petrusburg. Die Grobbelaars boer met koring en mielies, maar hulle rond ook hulle eie beeste af en koop skape in wat hulle vetmaak en dan weer verkoop.

Die Taarup 614 is die beste, doeltreffendste, vinnigste, duursaamste voermenger wat hulle nog ooit gesien het, sê Dirk Rossouw van Jupidex en Willie Dreyer en Tinus Fourie van Driekoppies Boerdery. Hierdie voermenger speel ‘n sleutelrol in die boerdery se veekomponent en het in vier jaar nog nooit ‘n enkele bees of skaap vir sy kos laat wag nie.

In hierdie bedrywigheid speel ‘n voermenger ‘n sleutelrol en daarom is Johan met net die beste tevrede: Jupidex se Taarup 614. En dis nie sommer net praat nie: Driekoppies het sy Taarup 614 nou al vier jaar en in al dié tyd het nie ‘n enkele dier nodig gehad om ‘n enkele dag honger te ly, soos meer as een keer die geval met sy vorige menger was, nie.

Om op ‘n Sondag met ‘n graaf te staan en sukkel terwyl ‘n uitgevrete voermenger ledig vir jou staan en kyk, is nie goed vir ‘n boer se bloeddruk nie. Daarom het Johan die Taarup met sy beter ontwerp, sy beter manier van lewering en sy beter vakmanskap aangeskaf.

Boonop bespaar die Taarup hom ‘n wavrag vol tyd en diesel. Waar die vorige voermenger twee uur gestaan en diesel suip het om ‘n redelike vermenging te behaal, kerf en meng die Taarup enige voer perfek in omtrent ‘n agtse tot ‘n kwart van dié tyd. Daarvoor gebruik hy twee stewige awegare wat gladweg op onderhoudvrye Ultra Glide-laers loop.

Sy dryfkettings en kettingratte loop in ‘n oliebad om ‘n gladde werking en ‘n eindelose lewe te verseker.

Die kontradraaiende awegare werk die materiaal onverbiddelik na die middel van die menger, vanwaar dit na bo styg, na die kante beweeg, teen die wande afdaal en weer na die middel gevoer word.

148 lemme, elkeen met drie snyvlakke, is aan die awegare gemonteer om die materiaal netjies en skoon teen ‘n gesegmenteerde snyerstaaf te kerf. In die vier jaar wat Driekoppies se Taarup elke dag tot 8 ton voer en lek meng, is die lemmetjies nog nie een keer aangedraai nie. Hulle eerste snyvlakke is nog heeltemal skerp. Dit beteken dat Johan meer as 12 jaar diens uit een stel lemme gaan kry.

Johan Grobbelaar van Driekoppies Boerdery naby Petrusburg is oortuig dat sy seun, Hennie, nog net soveel nut uit hierdie taai, betroubare Taarup-voermenger van Jupidex sal put as wat hy vandag doen. Regs van sy gesig is die sif waar konsentrate ingegooi kan word.

Dit is vir Johan baie belangrik dat lek en voer deeglik gemeng moet word om te verseker dat elke dier presies die regte rantsoensamestelling kry. Die Taarup meng enigiets: lusern, koring- of mieliehooi, gras in enige vorm en grootte baal, kuilvoer, meel, konsentrate, melassestroop, minerale, gooi maar in – hy weeg alles akkuraat en sy pens hou ‘n allemintige 14 kubieke meter wat hy in ‘n japtrap alles presies kerf en meng.

Die onderkant van die mengkamer is van roesbestande Cor-Ten-staal gemaak en met Ultra-Glide-plastiek uitgevoer om wrywing tydens die mengaksie te verminder en die mengkamer se lewe te verleng.

Hierdie flink mengaksie bespaar natuurlik ‘n magdom diesel teenoor die vorige menger wat twee uur lank moes staan en sukkelmeng. ‘n Boer kan beswaarlik ‘n operateur bekostig wat ‘n trekker twee uur lank moet staan en oppas en ‘n mens kan tog nie die trekker onbewaak laat staan en loop nie.

Johan se Taarup meng die volle 14 kubieke meter voer in net tien minute. Vir melkboere, wat growwer voer verkies, kan die tyd selfs korter wees.

Die Taarup 614 vra so tussen 60 en 76 kW trekkerkrag en ‘n mens sukkel nie, soos met Driekoppies se vorige menger, knaend met goed wat verstop en vasdraai en nie wil uittap nie. Die Taarup 614 het twee aftappunte; een links vir op die grond en een regs vir enige hoogte trog – en hy verstop nooit.

Dis lekker en maklik om met die Taarup 614 te werk, sê Johan. Hy vereis baie min onderhoud en enigeen kan dit doen. Hy beveel Taarup beslis vir ander boere aan.

Jupidex bied die boer drie Taarup-mengermodelle: Die 608 wat 8,5 kubieke meter hou, die 610 wat 10,5 kubieke meter hou en die 614 soos Driekoppies s’n, wat 14 kubieke meter hou.

Jupidex staan gereed om elke boer in die land van net die beste voermengers, raad en diens te voorsien. Praat met Jupidex se streeksbestuurder vir die Vrystaat en Noordoos-Kaap, Dirk Rossouw, by 082-448-1511, of met die nasionale verkoopbestuurder, Nico Storm, by 082-463-3124 of 033-345-2733. Daar is ‘n Jupidex-handelaar naby aan jou.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0