Categories: NewsPublished On: 3rd March 2011

“Dis alles in die vering”

By 4 min read
“Die geheim lê in die veerstelsel.”Aan die woord is Johan du Plooy van die Rand. Hy het pas vir hom ’n splinternuwe 4-metersleepwa van Nic Sleepwaens gekoop, nadat sy vorige 3-meterwa voortydig die lewe gelaat het.
 
Die “voortydig” was toe die wa reeds 218 000 km agter die blad gehad het en iemand van agter af in hom vasgejaag het. Johan het met wa, bakkie en al die pad verlaat en gerol. Gelukkig het hy nie seergekry nie, maar hy moes dringend sy rygoed vervang en soos altyd was Nic Keyser van Coligny gereed met ’n nuwe, groter en beter sleepwa.
 
Johan sê: “Jy moet weet, ’n Nicsleepwa is ’n ongelooflike bleddie ding. As dit nie vir die ongeluk was nie, sou ek nou nog met die vorige sleepwa rondgery het. Nou, met die groter wa, kan ek baie meer diere en bale of wat ook al skuif.”
 
Johan was ’n groot orgideeboer naby die Johannesburgse mark, maar hy sê in die huidige ekonomiese klimaat het mense eerder vleis as blomme nodig en daarom is dit vir hom belangrik om ’n betroubare veevervoermiddel te hê. Hy sê sy sleepwa bly permanent aan sy bakkie gehaak en of daar vrag op is of nie, hy ry ewe lekker: “Dit gaan oor daai veerstelsel…”
 
’n Sleepwa het nie ’n “boekie”- waarde nie
 
Nic Keyser stem saam dat sy unieke buigsame onderstel ’n belangrike rol speel in rygerief – nie net vir die man agter die stuur nie, maar ook vir die diere op die wa. Dit is egter nie al waaroor dit gaan nie. Dit is uitstaande vakmanskap en goeie gehalte materiaal wat maak dat ’n Nic-sleepwa sy waarde behou.
 
“’n Sleepwa is nie soos ’n kar nie,” verduidelik hy. “Daar is nie ’n outomatiese depresiasiewaarde nie; wat jy sien is wat jy kry en dit is waarvoor jy betaal.”
 
’n Sterk sleepwa wat nog goed lyk, het ’n baie goeie tweedehandse of inruilwaarde. Dit gebeur dikwels dat ’n Nic-sleepwa wat vyf jaar gelede gekoop is, nou vir meer geld as die aanvanklike aankoopprys verkoop kan word. Die inruilwaarde maak nogal ’n dramatiese verskil op die kontant wat nodig is vir ’n nuwe sleepwa.
 
“Ons is aanhoudend besig met nuwe ontwikkelings of klein verbeterings aan ons waens, want ons luister wat die boere vir ons sê. So, as ’n man ’n nuwe of groter wa wil hê, sê ek altyd vir hom om sy oue in te bring. Dit help hom om ’n nuwe een makliker te bekostig en op daardie manier help ons weer iemand anders wat dalk nie so kapitaalkragtig isnie, soos ’n beginnerboer.”
 
Elke ingeruilde sleepwa word van voor tot agter deurgegaan, herbou indien dit nodig is, geverf en van nuwe bande voorsien indien die oues afgeloop is. Dit lyk en is soos nuut! 
 
Net vir interessantheid, ’n stel bande kan maklik 100- tot 150 000 km hou voor dit vervang moet word. 
 
Beginnerboere hoef ook nie te skrik vir ’n skielike groot kontantbedrag nie. Finansiering is by die meeste handelsbanke beskikbaar. 
 
Soos Nic sê: “Dit is net ’n paar goeie bulle verder, dan maak jy jou geldjies terug!”
 
En daai bulle kan verseker wees van die volgende goeie diens: ’n Afskorting vir elkeen, ’n glymat van rubber of staal, ’n gerieflike oploopbaan en stewige ronde pype wat kneusing voorkom. Die reis is so gerieflik dat ’n bul by sy bestemming sommer dadelik aan die werk kan spring!
 
Nic-sleepwaens is natuurlik nie net vir bulle bedoel nie. Daar is ’n reeks van 147 modelle wat sleepwaens insluit vir motors, vierwielmotorfietse, brandbestryding en selfs helikopters en kameelperde! Daar is die Nic kombinasieveesleepwaens, tenksleepwaens, platbaksleepwaens, enkel- en dubbelassleepwaens en waens van enige grootte.
 
Die tussenskotbalke wat by die kombinasiesleepwa op enige plek deurgesteek kan word, maak dit moontlik om op dieselfde wa 4 perde, 5 beeste, 50 skape of 25 varke te vervoer. So jy kan Vrydag jou skape veiling toe vat en dan kan die kinders Saterdag gaan skouspring – en dit met net een wa.
 
Besoek www.nictrailers.co.za om uit te vind waar jou naaste agent is – daar is 114 landwyd – of skakel 018-673- 0224 of 082-859-0904 om ’n bietjie te gesels oor die tweedehandse waarde van jou Nic-sleepwa. Jy kan ook ’n e-pos stuur na info@nictrailers.co.za.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0