Categories: NewsPublished On: 31st March 2011

Diere veroorsaak ‘n landbouramp

By 2 min read
Baie boere in die Wes-Kaap kan nie meer ‘n bestaan maak nie as gevolg van die skade wat deur diere soos jakkalse, rooikatte, bosvarke en bobbejane veroorsaak word. Die verliese wat boere deur skadeveroorsakende diere in die Sentraal-Karoo en Suid-Kaap ly, was een van die gesprekspunte op Agri Wes-Kaap se streekkongresse op Nelspoort, Prins Albert, Oudtshoorn en Herbertsdale.
 
Die organisasie sê in ‘n verklaring die ekonomiese waarde van hierdie verliese bevestig dat die probleem rampafmetings begin aanneem.  
 
In die departement van landbou se 2007-sensus is al bevind dat die Wes-Kaap se skadeverliese 48% van die nasionale syfer beloop het, met ‘n geldwaarde van R103,987 miljoen. 
 
Volgens die verklaring wys ‘n studie wat onder 17 boere in Merweville gedoen is, duidelik ‘n toename in veeverliese sedert 2005. Hierdie studie is geskoei op ‘n gemiddeld van 4000 hektaar met ongeveer 400 ooie elk. Die verliese in 2005 was ‘n gemiddeld van 58 diere met ‘n geldwaarde van R29 000 per boer.  Teen 2010 is die gemiddelde verlies 146 diere met ‘n geldwaarde van R102 690 per boer, dít uit ‘n potensiële omset van R280 000 per boer.  
 
“Dis duidelik uit hierdie syfers dat die boere glad nie meer ‘n bestaan kan maak nie en dat ons dringend oplossings vir hierdie krisis moet kry,” sê Kosie Loubser, President van Agri Wes-Kaap
 
Jakkalse en rooikatte is die grootste probleem vir veeboere. Daar is egter ‘n bykomende bedreiging in die Suid-Kaap van bosvarke en bobbejane wat landerye, boorde en wingerde  vernietig.  Die organisasie sê die huidige regulasies vir die beheer van skadeveroorsakende diere is by verre nie voldoende om hierdie diere te bestuur nie en swak grensdrade, veral langs die Nasionale Parke/Bewaringsgebiede, dra by tot hierdie probleem.  
 
Agri Wes-Kaap, die Rooivleis Produsentevereniging (RPO) en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het die regering versoek om hierdie situasie as ‘n ramp te verklaar. Die provinsiale regering gee egter nie sy samewerking nie. 
 
 “Onvoldoende beheermaatrëels, die Provinsiale Departement van Omgewingsake se onvermoë om die bestaande permitstelsel effektief te bestuur en die ontkenning van politieke leiers dat ons hier met ‘n krisis te doen het, veroorsaak dat boere in die Karoo-gebiede ten gronde gaan,” sê mnr Loubser.   “Voedselsekuriteit, werksgeleenthede en ekonomiese groei in die landelike gebiede word ernstig bedreig, maar dit wil voorkom asof hierdie aspekte nie vir die Regering belangrik is nie.”

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment