Categories: NewsPublished On: 30th June 2010

Diens met integriteit: Monsanto is aan die boer se kant!

By 7 min read
1279 words

“Ons is baie tevrede met Monsanto se hantering van die hele bestuiwingsvraagstuk en ons sal beslis Monsanto-kliënte bly.” So sê oom At Janse van Rensburg van Mooiveld so ’n ent buite Hoopstad in Bothaville se koers.

Hy is een van die boere wat groot geskrik het toe hulle mielies nie behoorlik bestuif het nie, maar wat nou baie ingenome is met die eerbare manier waarop Monsanto die probleem hanteer het.

Twee-derdes van die mielies wat hy, sy seun en sy skoonseun geplant het is Monsanto se DKC78-45BR en in ’n mindere mate DKC 78-35R. Dit was hierdie twee kultivars, tesame met DKC77-71R, wat die afgelope seisoen bestuiwingsprobleme gehad het.

Casper du Toit van De Rust, so tien kilometer nader aan Hoopstad, is oom At se skoonseun. Hy vertel dat hulle by ander boere van die bestuiwingsprobleem gehoor het en dadelik na hulle eie mielies gaan kyk het. Daar was in daardie stadium geen stuifmeel nie en geen pitte het gevorm nie.

Later het daar tog bestuiwing plaasgevind, maar oneweredig en nie volledig nie. In daardie stadium het hulle Monsanto-agent op Wesselsbron, Rudolph Marais, gesê dat Monsanto besig is om ’n volledige opname van die probleem te doen en by hulle ook sou uitkom.

Uiteindelik is ’n vergadering by Nampo gehou waar Monsanto se mense aan boere verduidelik het wat die probleem was en voorstelle van boere oor vergoeding gevra het.

“Hulle het dadelik erken dat die fout aan hulle kant was en in geen stadium hulle verantwoordelikheid probeer ontduik nie,” vertel Casper.

“So hier en daar het ’n ou uitgehaak, veral toe daar oor pryse gepraat word, maar uiteindelik is almal in ’n baie goeie gesindheid uitmekaar,” voeg oom At by. “Na die einde se kant toe het ’n mens gevoel die boer en Monsanto is aan dieselfde kant.”

Die feit dat Monsanto ’n groot internasionale organisasie is maak natuurlik sy hand sterker om ’n probleem soos hierdie op te los, voeg hy by. “’n Kleiner organisasie sou miskien versigtig wees om mildelik te vergoed.”

En mildelik was die vergoeding inderdaad. Monsanto het hulle opnames gemaak van die pitbedekking en graad op mieliekoppe. Hulle het die bemesting, reënval en vorige oes in aanmerking geneem om te bepaal wat die boer se oes sou moes wees as daar geen bestuiwingsprobleem was nie en die verskil summier aan die boere uitbetaal.

“Die bedrag was meer as wat ons gedink of oor gedroom het,” erken oom At, “en ons het dit ontvang voordat ons ’n enkele pit gestroop het. En gister het ons dit alles gebruik om kunsmis te koop vir die volgende seisoen. Dis die eerste keer dat ons hierdie tyd van die jaar ons kunsmis kan koop.”

Daar is deesdae soveel uitbuiters in die landbou bedrywig dat die boer gerus sy vingers kan tel elke keer as hy iemand met die hand gegroet het. Teen hierdie agtergrond herstel Monsanto se eerlike optrede weer ’n mens se vertroue in jou medemens.

“Ons plant al Monsanto vandat CRN 3505 op die mark gekom het en daar is normaalweg geen klagte oor Monsanto se diens of produkte nie,” sê Casper. “Hulle pryse vergelyk goed, hulle het met die hantering van die bestuiwingsprobleem gewys ’n mens kan op hulle reken en ons sal Monsanto-kliënte bly.”

Dit strook met die uitspraak van Kobus Lindeque, gebiedsbestuurder van Monsanto Afrika: “Monsanto is daartoe verbind om by sy produkte te staan en om sy boerekliënte te ondersteun. Dit is wat ons nog altyd gedoen het en ook in die toekoms sal doen.”

Monsanto het natuurlik ook deeglik ondersoek ingestel na die oorsaak van die wisselvallige bestuiwing om te verseker dat die probleem nie weer ondervind sal word nie.

Die ondersoek het onteenseglik aan die lig gebring dat die probleem nie by biotegnologie lê nie. Dit is veroorsaak deur sistoplasmiese manlike steriliteit (cytoplasmic male sterility) (CMS).

Hierdie natuurlike proses beheer bestuiwing deurdat die plant steriele stuifmeel produseer en dit kom voor in meer as 150 plantspesies.

CMS kan net deur die vroulike ouerlyn oorgedra word. Die bestuiwingsvariasies is veroorsaak deurdat die manlike en vroulike ouerlyne tydens die produksie van die betrokke saad omgeruil is. Dit, saam met weersomstandighede en sekere boerderypraktyke, het veroorsaak dat die drie basters minder stuifmeel geproduseer het, wat tot ’n laer opbrengs gelei het.

Die probleem was beperk tot minder as ’n kwart van dié kultivars se aanplanting.

Monsanto het deeglik ondersoek, ingestel en bevind dat CMS net in die vroulike ouerlyn van die drie basters ter sprake voorkom. Die ouerlyn wat CMS bevat sal nie weer as die vroulike ouerlyn in basterproduksie gebruik word nie, daarom kan boere met vertroue weer dieselfde basters plant. Talle boere het reeds hulle saad vir die volgende seisoen bestel.

Een so ’n boer wat verseker weer Monsanto se saad sal koop is Gideon Koegelenberg van Makwassie se wêreld. “Ek dink Monsanto het die beste saad vir ons gebied en boonop gee hulle ’n mens meer as saad,” sê hy.

Hulle verteenwoordiger, Dawie Smith, is die wakkerste saadverteenwoordiger in die omgewing, vertel Gideon. “Hy kom kyk gereeld deur die jaar hoe my mielies en sonneblom groei. Hy woon ook al die studiegroepdae en die meeste boeredae by en gee belangrike insette.”

Toe Gideon en ’n vriend, Jaco Beyers, agterkom dat hulle mielies nie na behore bestuif nie, het Dawie onmiddellik die landboukundiges laat kom, selfs buitelandse kundiges, om die saak deeglik te ondersoek.

“Hulle het ons heeltyd op datum gehou en gesê hulle werk aan die saak. Hulle het nooit probeer ontken dat daar ’n probleem is nie. Van die begin af het hulle gesê dat, as daar ‘n probleem aan hulle kant is, hulle sal pa staan daarvoor.

“Uiteindelik het Monsanto ons beter uitbetaal as wat ons verwag het. Hulle het ook baie gou uitbetaal. Ons is honderd persent tevrede en ek het vertroue in die maatskappy.”

Naby Klerksdorp boer Naas Brits met droëlandmielies en -sonneblom. 500 hektaar van sy mielie-aanplanting en 100 hektaar van sy sonneblomaanplanting was Monsanto.

Daar was bestuiwingsprobleme op gedeeltes van sy DKC78-45BR en sy DKC77-71R, maar baie min. “Die skade was minder as wat Monsanto toegegee en waarvoor hulle my uitbetaal het,” erken die eienaar van Dankbaar Boerdery.

Naas is baie tevrede met die manier waarop Monsanto die saak hanteer het vanaf die eerste vergadering tot met die spoedige uitbetaling nog voordat hy ’n enkele pit gestroop het.

Naas se Monsanto-verteenwoordiger, Willa Botha, is gereeld in die lande en kom gewoonlik ook strooptyd saam lekkerkry oor die puik oeste wat Naas met Monsanto-basters behaal.

Toe Willa die pitverlies vanjaar sien, het hy dadelik Monsanto se magtige masjien aan die rol gesit. Landboukundiges het blokke mielies kom deurgaan, hulle het gps-koördinate en foto’s geneem, mielies oopgemaak, pitte getel, tabelle opgestel en die skade bepaal.

“Die streekbestuurder, Pieter Basson, het kom vra of ek tevrede is met hulle skadeberekening en voorgestelde vergoeding en binne net veertien dae het hulle die geld in my bankrekening inbetaal.”

Met hierdie toewyding en integriteit is dit geen wonder dat boere soos Gideon Koegelenberg weer Monsanto-basters gaan plant nie: “Ek het vertroue in Monsanto. Dit laat ’n mens gemaklik voel om te sien dat Monsanto sy beloftes nakom. Monsanto is op daardie gebied ’n wonderlike maatskappy.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0