Categories: NewsPublished On: 26th October 2011

Die waarde van geld

By 9 min read

Aan Jannie

 

Jou ma het vanoggend veilig aangekom. Ek sou liewer gesien het dat ons jou die geld maar gestuur het en dat jy jou skuld self daarmee reggemaak het. Maar jou moeder is nou eenmaal so. Sy wil maar nie verstaan dat selfs ‘n vertroetelde kalf tog eendag ‘n os word en dat, hoe kwaai sy maat hom dan ook teen die juk opkeil, daar tog geen plek vir ‘n koei langs hom is nie.

 

Om die waarheid te sê, ek is vandag half spyt dat ons so halsoorkop besluit het om jou uit jou moeilikheid te help. Elke slag wat ek ‘n jong bulletjie koop en hom hier onder die plaasbeeste los, loop hy die ou plaasbul storm.

 

Ek kry partymaal eintlik seer as die groot, swaar bul die outjie se vel so riempies-sny met die horing. Maak ek laat die volk die twee nooit uitemaar maak nie. Die outjie vlug tog naderhand. As hy dan die volgende môre styf en seer aangesukkel kom water toe, sorg hy self dat hy van die groot bul af wegbly.

 

Op skuld koop is duur koop. Maar dit hinder my nie eintlik dat jy skuld gemaak het nie. Ek het nooit verwag dat jy nie die een of ander dwaasheid op die universiteit sou begaan nie. Sorg maar net dat jy voortaan kontant betaal. Om jou ‘n tweede maal teen dieselfde paal vas te loop, is die werk van ‘n man wat nie die verstand het om ‘n ding raak te sien nie.

 

Wat my wel ‘n bietjie hinder, is dat jy die skuld vir ons probeer wegsteek het. ‘n Tweede fout maak nooit die eerste reg nie. As ‘n man ‘n swak kalfie aan die agterbeen gryp en die ding gaan aan die brul, en die koei loop jou storm, dan verhelp jy nie juis sake deur ‘n tweede kalfie aan die agterbeen te gryp nie. Jy bring naderhand net die hele trop beeste op jou af.

 

Te oordeel aan die breë rieme wat jy uit jou vader se vel sny, is jou klagte teenoor jou moeder dat jou vader suinig is, waarskynlik gegrond. Die geslagte is maar geneig om van die een uiterste na die ander oor te gaan. So is die kinders van dronklappe gewoonlik afskaffers en die kinders van afskaffers dronklappe.

 

My eie vader was soos jy. Hy het geld maklik uitgegee; te maklik. Die armoede en ellende wat ons moes deurmaak nadat hy bankrot gespeel het en tou opgegooi het, is vandag my verskoning daarvoor dat om suinig te lewe by my tweede natuur geword het.

 

Dis swak om suinig te wees; ek stem saam; sommer baie swak. Maar om op ‘n ander se koste vrygewig te wees, is, indien moontlik, nog swakker.

 

Geld, sê jy, is niks. Ja, geld is niks, glad niks as jy die ding die dag het. Maar as jy die ding nie het nie, dié dag is geld sommer alles.

 

Op my oudag het ek geld in die poskantoor; geld op rente by die regering; geld by ou Saks op die dorp. Ek weet nie meer altyd wanneer die vervaldag daar is nie en of die jaar se rente al betaal is nie. Jou ma hou daar boek van en bewaar vir my die dokumente.

 

Maar daar was ‘n tyd toe ek al my aardse besittings in die binnesak van my baadjie rondgedra het en kort-kort met die hand gevoel het of die ou beursie nog daar is, so bang word ‘n man vir die armoede as jy die ding die dag ken.

 

Jou ma kla dat jy die waarde van geld nie verstaan nie. Ek hoop jy verstaan dit nooit, want dit is net armoede en gebrek wat ‘n man die waarde van geld leer verstaan.

 

Die enigste manier om gou ryk te word, sover ek weet, is om ‘n lootjie te trek. Daar is egter sommer baie maniere om gou arm te word. Hoe onnoseler ‘n man is, hoe makliker kry hy dit reg.

 

Erfgeld, sê die oumense, is swerfgeld. As ‘n man nie weet waar jou geld vandaan gekom het nie, weet jy môre, oormôre ook nie waar dit heengegaan het nie.

 

Jy sal jou nog ryk erwe. Of jy ryk sal sterwe, hang af van wat jy uitgee, nie van wat jy erwe nie. As jou inkomste eendag twintig pond per week is en jy gee neëntien pond neëntien sjielings en nege ouplap per week uit, sal jy en jou kinders baas van Vleiplaas bly. Maar as jy twintig pond inkry en neën-en-twintig pond neëntien sjielings en nege oulap uitgee, sal jy die waarde van geld nog leer ken.

 

Met geld is dit maar baie soos met die boerdery. As ‘n man voor is, is hy voor, en as hy agter is, is hy agter. Ou Saks sê dis die eerste duisend pond wat so swaar is om aan te keer. Maar as die eerste duisend eers in die kraal is, lok dit sommer baie meer duisende in.

 

Ou Saks het letters gevreet. Hy behoort te weet. Maar dit kan ek hom verseker, vir ‘n boer is ‘n duisend pond te min. ‘n Boer moet sommer ‘n baie groot neseier hê.

 

Voordat ‘n boer soveel spaarveld het dat die droogte hom nie kan vang nie en hy nie elke jaar vee hoef te verkoop, of die mark nou goed of sleg is nie, is hy nog glad nie voor nie. Maar as ‘n boer eers voor is, is hy voor. “Aan hom wat het, word gegee,” word nêrens meer bewaarheid as op ‘n groot plaas nie.

 

By ou Ryk Servaas Rooibult kry ‘n koei nie kans om oud te word nie. Sy speen skaars haar derde kalf of sy word in ‘n vetmaakkamp in geja.

 

Terwyl ‘n arm man verplig is om so ‘n koei vir ‘n appel en ‘n ei te verkoop omdat hy geen vetmaak-veld gehad het en haar derhalwe maar end-uit moes laat kalwe, laat Servaas ‘n koei nie onder die twaalf pond loop nie.

 

Waar ‘n ander maar vader-dankie bly is om sy tollies speenoud te verkoop al kry hy ook maar twee pond stuk, verkoop ou Ryk Servaas Rooibult geen tollie voordat die ding die dag ‘n slagos is nie.

 

Die ou se slagosse is voor die voet broekdraers, sommer sulke blokke. Sy prys is twintig pond stuk. As die koper die twintig pond nie wil betaal of nie kan betaal nie, kan hy die osse maar laat staan. Veld is mos volop. As die koper die dag vir die twintig pond kans sien, kan hy die osse kom haal; so nie, is dit daarnatoe.

 

As nig Bettie Rooibult ‘n mooi rok of ‘n nuwe hoed wil koop, het sy geen die minste moeite met haar ou man nie. “Natuurlik,” sê die ou. “Koop wat jy lus het. Ons het mos geen gebrek aan geld nie.”

 

Maar as daar die dag kuiergaste kom en sy ‘n paar bekers melk vir die huis wil hê, moet sy die saak versigtig aanroer. Ou Servaas kry eintlik seer as ‘n jong aan ‘n koei se speen vat, so besorgd is die ou oor sy kalwers.

 

‘n Arm man wat te voet op Rooibult aangestap kom, klop nooit verniet aan nie. Hy kry slaapplek en kos, padkos ook as dit nodig is, en geld boonop om hom oor die weg te help.

 

Maar as die arme drommel daar met ‘n kar en donkies aankom en vra of hy nie maar kan oorstaan en sy veetjies by die kampplek inja nie, kry Servaas byna die stuipe.

 

Selfs die bene wat op die veld lê en verbleik, laat hy die volk nie optel en verkoop nie. “As beenmeel vir die Bolanders se koringlande so onmisbaar is,” sê die ou, “dan is die goed vir my veld mos ook onmisbaar.”

 

Dis snaaks, maar hoe verder ‘n boer voor is en hoe minder hy hom oor geld hoef te bekommer, hoe meer besorgd raak hy oor sy veld.

 

Die lys wat jou ma saamgebring het en die kwitansie vir die geld wat sy uitbetaal het, lê hier voor my op die tafel. Die lys hinder my nie. Ek is bly om te sien dat daar geen dobbelskuld of drankskuld op staan nie. Ek het ook nie verwag dat jy jou ore aan die duiwel sou uitleen nie. Maar ‘n man kan nooit weet nie, veral nie op ‘n universiteit waar so baie jong mense leeglê nie.

 

Vyftien sjielings vir ‘n bos blomme is duur. Ek het in my hele leeftyd nog nooit ‘n enkele sjieling vir ‘n blom uitgegee nie. As ‘n man die goed nie self kan kweek nie, kan jy mos daarsonder klaarkom. Maar as die nôientjie gaaf is en as sy van blomme hou, was dit miskien verstandig van jou om breed aan te voor.

 

Die klere wat ek dra, maak jou ma nog altyd self; en vir die enkele kispak wat ek op die dorp koop, het ek nog nooit meer as vyf pond betaal nie. Maar aangesien die ander daar by julle snyerspakke dra en tot die prys van drie uitgegroeide Afrikanerverse daarvoor betaal, wil ek liewer sien dat jy met die trop saamgaan en nie soos ‘n uitgestote ou wildebeesvul eenkant boer nie.

 

Wanneer ‘n man die dag iets beteken, kom dit nie daarop aan of hy ‘n snyerspak of ‘n ferweelbroek aan het nie. Maar as ‘n man nog nie juis iets is nie, is dit miskien beter dat hy duur aantrek en darem na iets lyk. Om arm te wees en arm te lyk is dubbel, sê die oumense.

 

As die sweetkolle dik op Jan Parlement se hoed lê en sy broek blink van agter, is dit vir die mense mooi. “Die kêrel is nederig,” sê hulle. “Hy is sommer ‘n pure man.”

 

Maar as Jan Steyn se hoed deurgesweet is en die pak wat hy dra, is blink geskaaf, dink die mense nie dis mooi nie. “Kyk hoe suinig is die ou,” sê hulle. “Kyk hoe slordig.”

 

Die begin al weer droog word. Die wolboere kla nog nie. ‘n Mofskaap hou mos van so ‘n halwe droogtetjie. Maar ek wat ‘n beesboer is, ek wens dat die wolke weer ‘n slag wil opsteek.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0