Categories: NewsPublished On: 14th June 2011

Die-vuurwapenlisensie-proses-ontspoor

By 1 min read

Die polisie gaan blykbaar 600 van sy spoorwegeenheidlede gebruik om die agterstand in die verwerking van vuurwapenlisensie-aansoeke voor die sperdatum te probeer wegwerk.

AfriForum sê in ‘n verklaring die agterstand in die hantering van aansoeke om vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate is veel groter as wat eers beraam is. Die taakspan wat op 1 Oktober verlede jaar aangestel is om die sentrale vuurwapenregister se agterstand teen 31 Julie uit te wis, het volgens AfriForum ‘n onmoontlike taak om te verrig.
 
AfriForum het vertroulik verneem die strategie om die agterstand te hanteer, gaan behels om die spoorwegeenheidlede tydelik van hulle poste te onttrek om hulp met lisensie-aansoeke te verleen. 
 
“Indien hierdie inligting korrek is, is die besluit geneem sonder om die gevolge daarvan behoorlik in ag te neem,” het mnr Nantes Kelder, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.
 
“Die spoorwegeenheid sal daaronder lei en daar sal moontlik ʼn toename in treindiefstal wees. Om 600 polisielede wat onvertroud is met die bepalings van die Wet op Vuurwapenbeheer aan te stel om aansoeke om vuurwapenlisensies te hanteer, hou potensieel katastrofiese gevolge in. Ons voorsien dat regsgedinge teen die departement van polisie ingestel gaan word as uitvloeisel van hierdie besluit,” het mnr Kelder bygevoeg.
 
Hy sê dat die taakspan wat die sentrale vuurwapenregister se agterstand teen 31 Julie moet uitwis ʼn onmoontlike taak het, aangesien meer as 530 000 hernuwingsaansoeke nog nie afgehandel is nie.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0