Categories: NewsPublished On: 23rd January 2012

Die vierde plaasmoord vanjaar

By 1 min read

Mnr Francois du Toit, van Alzu Voere, is op sy plaas Kwalata naby Roossenekal in Mpumalanga doodgeskiet. Mnr du Toit was ‘n bekende voedingskundige en self ook ‘n boer.

Volgens mnr Henk van de Graaf, woordvoerder van TLU SA, het mnr Du Toit se hond geblaf en hy het gaan ondersoek instel. Hy is glo geskiet pas nadat hy die deur oopgemaak het. Volgens inligting was daar moontlik drie aanvallers betrokke. Hulle het mnr Du Toit se vrou en kinders vasgebind en met vuurwapens en selfone in twee van die egpaar se voertuie gevlug. Die voertuie is later op die plaas teruggevind.

Huldeblyke vir mnr Du Toit as voedingskundige en simpatie met sy familie het reeds begin instroom en volgens sy kollegas is sy dood ‘n geweldige slag vir die maatskappy.

Volgens TLU SA is dit waarskynlik die vierde plaasmoord vanjaar en wek dit weer eens kommer oor die veiligheid van boere in Suid-Afrika.  

Internasionale bewustheid oor plaasmoorde het in November verlede jaar ‘n hoogtepunt bereik toe TLU SA ‘n mosie voor die Nederlandse Tweede Kamer (Parlement) gebring het om hulp aan boere te verleen. Alhoewel die mosie verwerp is, is die landbou-organisasie positief oor die aandag wat die saak geniet het. TLU SA het onderneem om die aksie voort te sit, want die voortdurende moord op die boere kan nie langer stilweg aanvaar word nie.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment