Die-vere-maak-tog-die-voël!
Die rol van die verpakking van produkte is lank nie meer beperk tot die beskerming en hanteringsgerief van die produkte nie. Verpakking is een van die belangrikste rolspelers in bemarking. Dit beïnvloed verbruikersbesteding deurdat dit gebruik word om mense se aandag te trek en om hulle verkose handelsmerke te identifiseer.
Van die nuutste en prikkelendste idees rakende verpakking sal van 25 – 27 Oktober in Kaapstad besigtig kan word by Propak Cape, die Kaap se grootste verpakkingskou. Dit word by die Internasionale Konferensiesentrum (CTICC) aangebied.
Veral boere wat betrokke is by waardetoevoeging, kan gerus by die skou gaan aanklop.
Nuwe tegnologie, soos die gebruik van klank, lig, kleur en beweging om verbruikers se aandag te trek, sal vertoon word. Daar is nuus oor selfkleefplakkers in enige vorm en grootte, nuwe omgewingsvriendelike verpakking en die hergebruik van verpakking.
Met die nuwe verbruikerswet is dit ook belangrik dat boere en verwerkers kennis neem van al die vereistes, veral met betrekking tot inligting op etikette.
Michelle Bedser, die skoubestuurder van Propak Cape, sê ‘n volledige reeks verpakkingsprodukte, toerusting vir verpakking en al die inligting wat nodig is om verbruikers en verskaffers te beskerm, sal by die skou beskikbaar wees.
Vir meer besonderhede, besoek gerus www.propakcape.co.za.