Categories: NewsPublished On: 10th May 2011

Die tjekboek se dae is getel

By 2 min read
Betaling met tjeks gaan nie meer vir baie jare met ons wees nie. Daar is tans ‘n wêreldwye neiging om tjeks as betaalwyse uit te faseer.
 
Die Verenigde Koninkryk wil teen 2018 met tjeks wegdoen, en verskeie Europese lande is van plan om dieselfde te doen. Duitsland het reeds ‘n geruime tyd gelede dié betaalmetode uitgefaseer. Daar word verwag dat Suid-Afrika dieselfde gaan doen, nie lank na Brittanje nie.
 
“Ontleders het daarop gewys dat ons landboubedryf meer van tjeks gebruik maak as ander sektore”, sê mnr MC Loock van Standard Bank se Agri-besigheid-ondersteuningsdiens.
 
“In die verlede was tjeks uiteraard ‘n baie nuttige manier van betaling, aangesien dit boere in staat gestel het om sonder groot hoeveelhede kontant op die plaas klaar te kom. Dit was veilig, en ‘n gerieflike manier om op hoogte van ‘n mens se kontantvloei te bly”, sê hy. 
 
Met die hoë voorkoms van tjekbedrog en die langsame verwerking van tjeks, word alternatiewe metodes van betaling egter al hoe meer aantreklik.
 
Mnr Loock sê selfoon- en Internetbankdienste maak dit wel maklik en vinnig om betalings te maak, maar die afwesigheid van infrastruktuur en bandwydte op die afgeleë platteland maak hierdie opsies problematies vir sommige boere. Daarby het baie plaaswerkers nie bankrekeninge nie of hulle verkies dit om in kontant betaal te word.
 
Banke is egter deesdae in staat om ook vir hierdie boere oplossings te bied. Een só oplossing is die sogenaamde PayCard-gerief. Hierdie stelsel is ontwikkel vir werknemers sonder bankrekeninge wat nie maatskaplike toelaes ontvang nie. Die boer kan by sy bank die geld op PayCard laai, en sy werkers kan die kontant by enige kitsbank of handelaar wat MasterCard aanvaar, trek. Boere wat wel toegang tot Internet het, kan die oorbetaling aanlyn doen.
 
Tjekboekboere kan gerus solank hierdie moontlikhede ondersoek, aangesien tjekbetalings oor ‘n paar jaar iets van die verlede gaan wees.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0