Die son sal weer skyn
Boere in die Bultfontein-omgewing in die Vrystaat (foto: Hendrik Joubert) is ook onder diegene wat begin wonder waar is pad, rivier en land onder al die water. Van die boere, wat nou sou begin stroop het, meen dit kan tot twee weke duur voor hulle in die land kan kom. Hulle is dankbaar vir die sonnetjie wat begin deurbreek het, maar is bang vir sterk wind wat die mielies in die stadium kan omwaai.
Mnr Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA het vroeër gesê hulle verwag nie gehalteprobleme met die oes nie, maar wel dat dit stadiger sal inkom.
Die bittere koue en sneeu so vroeg in die winter het sommige skaapboere wat hulle laaste skeersel so drie weke terug afgehaal het, ook sleg gevang. Veral die ysreën saam met wind, kan tot vrektes lei.
Ondertussen sukkel die Kapenaars ook om kop bo water te hou. Volgens die Weerdiens het daar 200 mm reën in die George-omgewing uitgesak en tot 260 mm by Riversdal. Hoewel die boere, wat die laaste twee jaar erg onder droogte gely het, die reën verwelkom, is daar redelik skade. Paaie is oorstroom en brue is verspoel.
Boere wat nog nie koringaanplantings gedoen het nie, gaan ook ‘n geruime tyd sukkel om in die lande in te kom. Dieselfde geld vir groenteboere.
Volgens die Weerdiens behoort die reëntoestande oor die volgende paar dae op te klaar, hoewel dit langs die kusstreke tussen Port Elizabeth en tot in Natal nog kan reën.