Categories: NewsPublished On: 12th December 2011

Die rooivleisbedryf pak klimaatsveranderinge

By 2 min read

COP 17 was die afgelope twee weke die middelpunt van belangstelling met debatte, onderhandelinge, wetenskaplike argumente, aktiviste wat hulleself laat hoor het en aarselende politici, wat elkeen op sy eie manier ‘n bydrae gelewer het.

Die Rooivleisprodusente-organisasie sê in ‘n nuusvrystelling die nabetragting sal nog vir geruime tyd voortduur en daar sal waarskynlik nog baie ontledings volg oor wat verkeerd gegaan het en watter positiewe gevolge uit COP 17 voortgevloei het. Dit is egter belangriker om verantwoordelikheid te aanvaar en woorde in aksie te omskep. Die bul moet by die horings gepak word!

Dit is presies waartoe die rooivleisbedryf hom verbind in 2012. Die RPO sê klimaatsverandering het ‘n groot invloed op landbou en op natuurlike hulpbronne. Dit hou ernstige gevolge in vir veral sub-Sahara Afrika in terme van voedselsekerheid.

Landbou het ‘n impak op die omgewing met betrekking tot ekosisteme, biodiversiteit, waterbronne, grondgebruik, besoedeling, en in die konteks van COP17, ook die vrystel van kweekhuisgasse.

Veeboerdery dra veral by tot die uitlaat van kweekhuisgasse by wyse van metaanproduksie in enteriese gisting. Dit is verantwoordelik vir 90% van vee-vrystellings en 65% van alle landbou-vrystellings, die oorblywendes word veroorsaak deur die bestuur van dieremis, kunsmis, die brand van gras en verskeie ander bedrywighede.

Die totale kweekhuisgasse wat deur landbou vrygelaat word, is 34 000 Gg CO2e/jaar, teenoor  36 500 Gg CO2e/jaar vir vervoer, 50 000 Gg CO2e/jaar vir vervaardigingsnywerhede en ‘n massiewe 162 000 Gg CO2e/jaar vir energie-nywerhede. Die mees onlangse berekenings toon dat landbou vir 8,5% van totale kweekhuisgas-vrystellings in die land verantwoordelik is. Die bydrae van wild-boerdery is ook vir die eerste keer by hierdie syfers ingereken.

Die RPO sê dit is maklik om te redeneer dat tussen agt present weglaatbaar min is, maar die leiers in die rooivleisbedryf reken dat alle bedrywe en alle landsburgers hulleself daartoe behoort te verbind om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder.

Die vraag is: hoe mobiliseer jy ‘n hele bedryf om sy leiers se droom te verwesenlik, terwyl die regering se regulasies onprakties en onregverdigbaar is? Daarom is ‘n Kode van Beste Praktyk ontwikkel, wat ná wye konsultasie etiese riglyne vir die hele bedryf ontwikkel het. Dit is in wese ‘n self-regulerende verbinding wat alle ondergetekendes onderneem. Die riglyne en aanbevelings wat in die Kode verskaf word, help lede van die bedryf om ekosisteme, waterbestuur, besoedeling, die beheer van indringerplante, maatreëls om weiding te bestuur, die menslike hantering van diere, behoeftes van plaaswerkers en sosio-ekonomiese ontwikkeling aan te spreek.

Navrae oor die kode kan gerig word aan dr Heinz Meissner, onafhanklike akademikus, by 082-806-8530 of Gerhard Schutte, hoof uitvoerende beampte: RPO, 082-556-7296.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment