Categories: NewsPublished On: 13th July 2010

Die onstuitbare krag van eenvoud: Simplicity Allrounder kan nie anders as om te werk nie!

By 3 min read
593 words

Sodra ’n saak verduideliking nodig het, kan jy doodseker wees iets is verkeerd, het die oumense gesê.

Daarom is dit so lekker om Rovic & Leers se Simplicity Allrounder-planter van alle kante af te bekyk: Elke ding is logies, verstaanbaar, prakties en eenvoudig sodat jy by net een slotsom kan uitkom: Hier is ’n masjien wat nie anders kan as om te werk nie.

Aanskou hom van sy netjiese, stewige raam af op tot by sy ruim, verweringsbestande saad- en kunsmisbakke.

Bewonder sy eenvoudige, maar doeltreffende, maklik-om-te-kalibreer uitmeeteen­hede wat met ’n grondwiel en een dryfas aangedryf word sodat sy spoed en saadpla­sing altyd in harmonie is.

Verlustig jou in sy stewige wolframpunttande, met hulle hidroulies beheerde wegbreekaksie wat tussen 50 en 350 kg verstel kan word en wat vanself kalm herstel om fluks verder te werk.

Kyk hoe vernuftig sy Flexi Seeder-saadplasers ontwerp is om elke pit presies die beste groeikans te gee.

Verlekker jou in sy sinvolle spiraalrollers wat agter, buite die raam, geplaas is om te verseker dat materiaalvloei deur die raam nie belemmer word nie. Waar gewone plan­ters swaar drukwiele saam­piekel waaraan hompe turf vaskleef, breek die Allrounder se RFM-spirale kluite en trap die grondjies doeltreffend vas om ’n snoesige saadbed te vorm – in modder, sand, klip of klei, sonder om ooit te verstop of aan te pak.

Die spirale is boonop in seksies gerangskik en elke seksie loop op net twee dood­gewone laers wat jy oor die toonbank kan koop as hulle dalk eendag moeg word.

Maar dit is nie al nie. Jy kan kies of jy jou saad en kunsmis saam wil toedien en of jy kunsmis met ’n bykomende kunsmishuls agter die tand wil bandplaas.

Jy kan ook ’n spuitbalk en tenk aanbring om tydens die plantproses onkruid te bestry.

Maar die lekkerste is om die Allrounder in aksie te sien waar hy dag na dag sonder die geringste probleem die bulte beplant – en om jou agterna in die kragtige, eenvormige stand van jou graan te verlustig.

Die Allrounder het nie sy naam uit die lug gepluk nie – hy is inderdaad die toonbeeld van veelsydigheid, of jy nou koring, kanola, hawer, gars, sorghum, tef, lusern of enige fynsaad wil plant of saai in watter soort grond en volgens watter praktyk ook al, van intensiewe bewerking tot geen bewerking.

Teen 6 tot 7 km/h plant hy pit vir pit presies waar jy hom wil hê. Maar raak jy haastig, stoot jy die spoed op na 10 tot 12 km/h en draai jou spiraalrollers effens skuins om soos egge te werk, en daar saai jy jou land in ’n japtrap.

As jy dit so verkies, bestel jy hom GPS-toegerus vir presisieboerdery.

Die Allrounder is beskikbaar in werkwydtes van 6, 7, 8, 9, 10, 11 of 12 meter met tandspasiëring wat verstel kan word op 200, 250 en 300 mm.

Jy kan joune bestel met ’n 2-bak Simplicity-lugdruksaaikas van 3 000 liter, ’n 2-bak saaikas van 4 500 liter of ’n 3-bak saaikas van 4 500 liter op die trekstang gemonteer, of met sleepsaaikaste van 6 000 tot 12 000 liter met 2 of 3 bakke.

En agter al hierdie eenvoudige, maar doeltreffende tegnologie staan die handuitgesoekte mense van Rovic & Leers se 3 kantore en 250 handelaars regoor die land sewe dae per week gereed om die boer net die beste diens te bied.

As jy logies en doeltreffend wil plant, kry die planter wat nie verduidelikings nodig het nie: Simplicity Allrounder. Skakel Rovic & Leers by 021-907-1700 om te hoor wie die handelaar naaste aan jou is.
 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0