Categories: NewsPublished On: 30th June 2010

Die nuwe Tata Indica Vista: Hier’s nou ’n knap klein karretjie uitgeknip vir jou plaas

By 3 min read
642 words

Die perfekte ryding vir die boervrou, boeredogter en boerseun – dit is Tata se nuwe Indica Vista.

Die Vista is ’n opwindende nuwe aanvulling tot die bestaande Indica-reeks. Hy is breër, hoër en groter, veral wat binneruim betref. As jou kinders nog jonk genoeg is, laai jy maklik vier van hulle saam met die bestuurder in jou Vista.

Raak hulle meer opgeskote, kan drie gesonde plaaskinders hulle gemaklik in die Vista tuismaak, maar as Bakkies Botha een van jou kroos is, moet jy dalk oorweeg om hom eerder voor as agter te laat sit.

Die Vista het oorgenoeg beenruimte en jy voel nooit vasgedruk in hom nie.

Die sitplekke is lekker ferm en die bestuurdersitplek se hoogte kan verstel word om elke moontlike bestuurder te pas, so ook die stuurwiel.

Die bagasieruimte is nie te vreeslik groot nie, maar jy kan die agtersitplek ’n derde, twee-derdes of heeltemal
platslaan en dan het jy laaiplek om mee te mors.

Die Vista kom in drie modelle, die Ini, die Aura en die Ignis. Al drie spog met die befaamde, rekenaarbeheerde Safire 1,4 liter-petrolenjin. Die Ini en die Aura se enjins lewer 55 kW teen 6 000 opm en 114 Nm teen 3 250 opm. Die Ignis se enjin is aangepas om 65 kW teen 6 000 opm en 116 Nm wringkrag teen 4 750 opm te lewer. Die Ignis het
heelwat meer luukshede en hy trap die skaal tot op 1 055 kg teenoor sy twee maters se 1 030 kg.

Volgende jaar kom daar glo ook ’n model met ’n Quadra-Jet-dieselenjin van 1,3 liter.

Vir ’n 1400 draf die Vista lekker fluks en lewendig op die pad en sy hantering en padhouvermoë op die grondpad is
verstommend. Daartoe dra natuurlik die veertienduimwiele en die puik veerstelsel by (onafhanklike Mc
Phersonstawe met kronkelvere voor en semi-onafhanklike wringaste met kronkelvere en gasgevulde skokbrekers agter).

Die Vista bied jou ’n lekker soepel rit, maar tog voel jy dat hy die heeltyd stewig op die pad sit. Dit ondersteun die algemene indruk van fermheid wat die Vista skep. Hy is goed en smaakvol afgewerk, en niks aan hom voel los, papperig of pieperig nie.

Vir die bestuurder is die Vista pure troeteling. Daartoe dra sy hidrouliese kragstuur, elektriesbeheerde vensters van die Aura en Ignis, doeltreffende ruitveërs wat op ’n verskeidenheid maniere verstel kan word, lugversorging, rugsteunsitplekke, misligte voor en agter, sonskerms met smukspieëltjies en suiwer musiekstelsel by.

Die Vista het heelwat nuttige bêreplekkies in sy spatbord, middelkonsole en deure, ook vir koeldrankblikkies. Sy
paneelkissie is ruim genoeg om selfs ’n skootrekenaar in te bêre.

Veiligheid is ’n sleuteleienskap van die Vista. Eerstens maak die sentrale sluitstelsel en immobiliseerder seker dat jou motor jou eie eiendom bly, maar sy daghelder ligte, summierstop remme, hooggeplaaste agterligte, kinderslotte aan die agterdeure, stuurkolom wat opvou in ’n botsing, frommelsones wat energie in botsings absorbeer en kantbeskerming-stawe in die deure verminder ook die risiko van beserings in die geval van botsings.

Die enigste ding aan die Vista wat aanvanklik hinder, is die moderne neiging in bakwerkontwerp wat maak dat jy op geen manier die motor se snoet vanuit die bestuurdersitplek kan sien nie. Totdat jy sy afmetings gewoond geraak het, moet jy maar ruim skat wanneer jy parkeer.

Alles bymekaar getel, is daar seker min motors wat soveel waarde vir geld bied. Tata waarborg al drie modelle vir 3 jaar of 100 000 km, en bied ’n diensplan vir drie jaar of 75 000 km en padbystand vir twee jaar en onbeperkte kilometers.

Gaan gesels vandag met jou Tata-handelaar oor ’n bate vir jou plaas – ’n ratse, betroubare motortjie wat min brandstof gebruik, maar jou mense in die grootste gerief en veiligheid vervoer. As jy meer wil weet, praat ook by Tata se hoofkantoor met Christo Engelbrecht. Sy nommer is 082-709-2076 en sy e-posadres christoe@tatasa.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0