Categories: Mechanisation, TillingPublished On: 16th October 2014

Die nuwe onderhoudvrye Great Plains 7000-skotteleg: Reg vir werk

By 4 min read

Die nuwe onderhoudvrye Great Plains 7000-skotteleg: Altyd reg vir werk

Dit is daardie tyd van die jaar…

“Jannie, is die dis reg? Is die skottels almal geghries?”

“Ja Pa, alles is reg.”

“Jannie, het jy self gekyk of het jy iemand gestuur? Die weer maak reg, ek wil nie sukkel nie. As ons moet plant, moet ons kan plant!”

Die seisoen het gedraai, winterbewerkings is agter die rug, gerugte van reën hang in die lug en nou moet daardie skotteleg sy deel doen met die laaste stoppels en onkruid om die lande voor te berei. Maar o wee, dinge is nooit so eenvoudig soos dit hoort nie.

Die laers wat so mooi gepak was, het meer aandag nodig as wat die weer toelaat. Sommer die eerste dag al is daar ’n getjier en ’n geskuur en die ghriespomp moet meer as een maal uitgepluk word. Soos dit maar met ontwikkeling gaan, word die trekkers kragtiger, die skotteleë al wyer, die skottels al meer en die skarnierhingsels dra al meer gewig. Daarmee saam word die ghriespunte al hoe meer en die tyd wat vir onderhoud gebruik word, word in rande afgetiek; nie meer in sente nie.

Watter boer wil nie graag 10 hektaar se bewerkingstyd per dag spaar nie? Met Agri Afrika se spiksplinternuwe Great Plains 7000-skotteleg is dit nou moontlik. Elke skottelgroep se draer en elke liewe skottel, tot 96 van hulle aan die grootste model, se laers hoef glad nie geghries te word nie. Die laers doen hulle rolwerk netjies en knus in ’n verseëlde pakkie bekend as TILLXTREME of PEER TILLXTREME vir die groter skakels aan die skottelgroepmonterings.

Toetse het getoon dat die TILLXTREME-laers tot dubbeld die leeftyd het van ander onderhoudsvrye laers.

Die Great Plains 7000-skotteleg se verseëlde laers het geen onderhoud nodig nie sodat die ghriespomp maar in die skuur kan bly.

Met die Great Plains 7000 kan Jannie (en sy pa) maar ontspan. Met sonop kan die skottels insak en begin werk.

Die laers is ook selfsentrerend, wat beteken dat al die skottels ’n beter balans en gladder beweging het. Die werk is nie net meer egalig nie, die skottels hou ook langer en werk vir langer meer doeltreffend.

Dis meer as net ’n eg 

Great Plains staan al vir feitlik vier dekades aan die voorpunt van die ontwikkeling van landboumasjinerie in die mededingende mark in Amerika en wêreldwyd, en as daar een ding is wat hulle geleer het, is dit om na die boer te luister.

Die Great Plains 7000-skotteleg is ontwikkel op grond van versoeke van boere wat net die jongste tegnologie op hulle plase wil gebruik, ook vir konvensionele bewerking.

Rodney Hake, Great Plains se hoofingenieur vir grondbewerkingstoerusting, sê hulle het geluister na boere se voorstelle oor hoe die bestaande skotteleë in die reeks (Great Plains 3000 en 4000) verbeter kan word. Hulle het ook na diensverslae gekyk om uit te vind waar moontlike probleme lê. Dit het gelei tot die splinternuwe 7000-reeks.

Hy sê die basiese ontwerp met betrekking tot kritiese werkseienskappe soos die aanvalshoek en die indringing wat nodig is om reste in die grond te plaas, is behou, want dit is nie nodig om met ’n wenresep te karring nie. “Die kontrarangskikking van die skottels bly een van die mees doeltreffende maniere om onkruid meganies uit te skakel en terselfdertyd ongelyke lande gelyk te maak.”

’n Belangrike verbetering is die gebruik van ’n enkele sentrale wringbuisas vir presiese sywaartse gelykverstelling. Daar is ook verbeterde hidrouliese gelykverstelling tussen die voor- en agterkant.

Die ontwerp verminder die aantal bewegende skakels en daardeur word moontlikhede vir slytasie ook verminder. Ander verbeteringe is makliker dieptebeheerwielverstelling (hidroulies vanuit die kajuit aan 7330-, 7333- en 7336-modelle) en groter wiele met straallaagbande.

Daarby spog die skotteleg met ander eienskappe soos die unieke montering van skottelsteldraers aan die raam vir onoortreflike sterkte en betroubaarheid. Die masjien is nie net ontwerp om pynlike en tydrowende daaglikse onderhoud te verminder nie, maar eienskappe soos sterker skottelstelmonteerstawe (10 x 15 cm teenoor 7,5 x 13 cm) sorg ook vir ’n langer lewe.

Die hele eg vou netjies en maklik op vir padvervoer met ’n unieke optelasontwerp en het ook ’n hoër grondvryhoogte as sy voorganger wat van padlangsry ’n plesier maak. Dit beteken ook dat groter skottels, van 66 cm (26 duim) gebruik kan word.

Vier opvouslinders voorkom dat vlerke verwring of draai wanneer dit op- of oopgevou word.

Met ’n Great Plains 7000-skotteleg op die plaas kan Jannie nou aan ander belangrike sake aandag gee.

Geniet die jongste tegnologie in konvensionele bewerking. Skakel Marius Tolmay by 083-581-5709, 086-111-3692 of e-pos marius@agriafrika.co.za. Besoek ook www.agriafrika.co.za om na Agri Afrika se volledige reeks oplossings vir die boer te kyk.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0