Die nasionalisering van mineraleregte is onteiening
Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis dat die Minerale-en Petroleumhulpbronne Ontwikkelingswet van 2002 wel beteken dat mineraleregte onteien word. Mineraalreghouers wat vir die uitspraak gewag het, het egter net tot more (30 April) om eise vir vergoeding by die staat in te dien.
Die rigtinggewende uitspraak in die saak wat deur Agri SA aanhangig gemaak is, is dus moontlik te laat vir laatslapers wat nog nie hulle dokumente ingedien het nie. Mnr Nic Opperman, direkteur Natuurlike Hulpbronne van Agri SA is tevrede dat hulle lede genoeg tyd en inligting gehad het om betyds op te tree.
Die wet het op 1 Mei 2004 in werking getree en in terme van bestaande wetgewing was daar aanvanklik net enkele maande tyd vir mense wat deur die wet geraak is, om te reageer. Deur onderhandelinge is die datum aangeskuif tot 30 April 2011.
Aanvanklik was daar ‘n groepsgeding aanhangig gemaak, maar omdat elke persoon sy eie skade moes bewys, kon die saak nie slaag nie.
Agri SA sê in ‘n verklaring sy doelwit met hierdie toetssaak was om onteiening van mineraleregte te bewys wat die staat sal verplig om vergoeding te betaal. Dit beteken dat elke persoon wat ‘n eis indien nie ook nodig sal hê om te bewys dat onteiening plaasgevind het nie.
Regter Ben du Plessis het bevind dat: "For the reasons stated the objects of the MPRDA could not be achieved without depriving mineral rights holders of their property and without vesting in the state similar rights. While not expressly stated, expropriation was one of the purposes of the MPRDA."
Dié uitspraak volg op ‘n vroeëre beslissing van Regter Hartzenberg in Maart 2009 dat dit wel vir die houers van ou orde mineraleregte moontlik is om onteiening te bewys.
Mnr Johannes Möller, president van Agri SA sê: “Hierdie uitspraak bevestig die fundamentele beginsel in artikel 25 van ons Grondwet dat eiendom nie onteien kan word sonder vergoeding nie."