Categories: NewsPublished On: 3rd December 2010

Die-LNR-bestuur-finansies-beter

By 2 min read

Die Landbounavorsingsraad (LNR) het sy 2009/10 finansiële resultate bekend gemaak.

Die raad het sy ongekwalifiseerde oudit verslag vir die finansiële jaar wat op 31 Maart 2010 geëindig het op Irene bekendgestel. Volgens hulle nuwe voorsitter, meneer Jonathan Godden, is dit ’n groot verbetering op die verslae van vorige jare.

Luidens die verslag het die bydrae van regeringskant van R470 miljoen tot R533 miljoen toegeneem. Hulle inkomste uit nie-regeringsgeld het vir die verslagtydperk sowat R300 miljoen beloop. Die LNR se algehele inkomste het met 9% tot R831 miljoen toegeneem.

Aan die uitgawe kant het die koste van personeel met 5% toegeneem terwyl sy ander bedryfskoste met 11% afgeneem het. Hierdie afname kan aan “kostebestuursmaatreëls” toegeskryf word. Die LNR se algehele uitgawes het met 1% verminder tot R773 miljoen.

Dit is egter duidelik dat die LNR steeds onder ernstige finansiële druk gebuk gaan. Die bydrae van regeringskant is kwalik genoeg om sy personeel te betaal. Dr Shadrack Moepuli, President en Hoof Uitvoerende-beampte het gesê dat die onderbefondsing veroorsaak dat hulle nie instaat is om hulle hoogs gekwalifiseerde en ervare personeel te behou nie. ’n Groot deel van die raad se infrastruktuur is ook in ’n gehawende toestand.

Beter vooruitsigte

Volgens meneer Godden figureer landbou deesdae baie sterker op die regering se sakelys. Hy sê dat die regering besef dat daar twee tot drie persent van die bruto binnelandse produk aan navorsing en ontwikkeling spandeer moet word indien die land mededingend wil bly. Dit is goeie nuus vir die LNR wat reeds jare sukkel om sy werk na behore te doen as gevolg van ’n geldtekort.

Daar sal ook voortaan ’n “twee-been-beleid” gevolg word, naamlik om beide opkomende landbou en kommersiële landbou te versterk.

Die regering moet met goeie argumente oortuig word van die belangrike rol wat landbou speel sodat landbounavorsing die fondse en steun kry wat dit nodige het, het meneer Godden gesê.

Intussen moet die LNR klaarkom met wat hy het. Noue samewerking met universiteite en ander navorsings-instansies verseker toegang tot kundigheid wat in eie geledere ontbreek.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0