Die landboubedryf trek swaar
‘n Opname deur PricewaterhouseCoopers het bevind dat die landboubedryf tans onder groot druk verkeer. Twee redes word hievoor aangevoer, naamlik die sterk rand en ondersteuningskemas aan boere in ontwikkelde lande.
Die ekonomiese resessie het ‘n bydraende negatiewe uitwerking op die landboubedryf gehad. Hoë insetkoste en ‘n skerp daling in produkpryse het die bedryf onder verdere druk geplaas.
Die opname toon dat landboubesighede se winsgewendheid in 2010 met 19% gedaal het en dat handelsomset met 4% gedaal het. Graantransaksies het ook met 11% afgeneem.
Landboubesighede het gebuk gegaan onder die daling in kommoditeitspryse. Weens die afname in boere se koopkrag is hulle gedwing om kapitaalbesteding in te kort, wat trekker- en implement- verkope aansienlik gestrem het.
Die opname bevestig die groei in landboubesighede se debiteureboek en die finansiering daarvan. Kommer word uitgespreek dat landboubesighede weens die groei in boere se skuld gedwing was om bykomende verpligtinge aan te gaan en dit selfs in langtermynskuld te konsolideer.
Volgens die samesteller van die opname, meneer Kobie Bekker, word langtermynfasiliteite gebruik om korttermynskuld van boere te finansier. Die groot omvang van oorlaatskuld, dit wil sê oesopbrengste wat nie insetkoste kon vereffen nie, het ook meegebring dat landboubesighede kredietaansoeke nou streng op meriete hanteer, terwyl groter voorsienings vir twyfelagtige skuld geskep word.
“Daar is aanduidings dat landboubesighede vanjaar minder krediet gaan toestaan. Dié situasie het meegebring dat die aandag nou eerder op risikobestuur val en sekere nuwe projekte uitgestel word. Daar word ook meer op die behoud van welvaart gefokus deur strenger kostebestuur toe te pas en markaandeel te behou,” sê meneer Bekker.