Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 9th October 2023

Die Kaap haal uit en wys: Rekordgetal besoekers by NAMPO Kaap 2023

By 2 min read

379324516_846749780569589_2437431292285681513_n

Die Wes-Kaap en die Overberg is bekend vir skouspelagtige natuurskoon, pragtige wynlande, wild- en natuurreservate, lewendige stede en dorpe, geskiedkundige en kulturele erfenis en asemrowende avontuurbelewenisse. Sedert 2018 is dié streek ook bekend vir sy eie NAMPO.

NAMPO Kaap is reeds ’n gevestigde en vooraanstaande landbou-uitstalling en handelskou – en ’n sleutelgeleentheid wat as ’n platform vir die nuutste vooruitgang en vernuwing in landbou dien. En waarom dan nie ’n NAMPO in die Kaap aanbied nie? Die provinsie het ’n ryk landbou-erfenis met uiteenlopendde graangewasse, oliesade en peulgewasse wat grotendeels aan die Weskus (35%) en in die Overberg (30%) verbou word. In 2020 was die provinsie se primêre landbou-uitvoere verantwoordelik vir 53% van nasionale uitvoere.

Agt van die tien grootste uitvoerprodukte uit die Wes-Kaap het ’n landbougrondslag en meer as 50% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere kom uit die provinsie. Dit is dus sinvol om ’n landbouhandelskou van dié kaliber in die Wes-Kaap aan te bied. NAMPO Kaap is nie net ’n handelskou nie; dit is ’n viering van landbou, ’n platform vir groei en ’n katalisator vir vernuwing en volhoubaarheid. Deur rolspelers in die sektor, boere en die publiek bymekaar te bring, werp hierdie geleentheid lig op die jongste ontwikkelings in die landbou, moedig kennisdeling aan en bevorder beste praktyke.

NAMPO Kaap se impak strek verder as die vertoonvenster se fisieke grense. Dit begeester en bemagtig boere, terwyl dit bewustheid oor die belangrikheid en potensiaal van moderne landbou in Suid-Afrika verhoog.

Altesaam 34 635 besoekers het vanjaar se NAMPO Kaap te Bredasdorp bygewoon, ‘n rekordgetal teenoor verlede jaar se 32 000. Ten spyte van die wind en weer was daar 530 uitstallers in 625 uitstalruimtes, en die Voermolsaal het 60 bykomende uitstalruimtes gehad. Vanjaar se vier dae van NAMPO Kaap het ‘n propvol program met verskeie demonstrasies, kompetisies en die tentoonstelling van die nuutste landboutegnologie ingesluit. Vanjaar se tema was groenenergie-rewolusie.

Merk solank 11 tot 14 September 2024 duidelik in jou dagboek vir volgende jaar se NAMPO Kaap, wat ‘n herdenking van geskiedenis gaan insluit – dertig jaar sedert die eerste meganisasieskou, die voorloper van NAMPO Kaap, gehou is.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment