Die-FAK-gaan-Malema-debat-hou
Verskeie bekende Afrikaanse sprekers gaan op 6 Oktober tydens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) oor die Malema-haatspraaksaak debat voer.
Vrae wat getakel gaan word is onder andere:
- Het die saak nie net olie op Malema se vuur gegooi nie?
- Het die saak Suid-Afrika nie net verder gepolariseer nie?
- Kan die hofbevel wat uit die Malema-haatspraaksaak spruit doeltreffend afgedwing word?
- Is die ANC nie dalk as gevolg daarvan die harnas ingejaag teen Afrikaners nie?
Volgens Danie Brink, uitvoerende hoof van die FAK, het regter Colin Lamont se geskiedkundige uitspraak op 12 September vanjaar die haatspraaksaak teen Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, groot opspraak gewek en talle vrae onder Afrikaner-geledere ontketen.
Die sprekers wat tydens die geleentheid gaan optree is mnr Willie Spies (AfriForum se prokureur), Adv Roelof du Plessis (senior advokaat van TLU SA), Genl Chris van Zyl (assistent-hoofbestuurder van TLU SA) en prof Koos Malan (advokaat vir die Vereniging van Regslui vir Afrikaans).
“Lamont het onder meer bevind die omstrede ‘Skiet die Boer’-lied ondermyn menseregte en is skadelik en diskriminerend. Hy het bevind dat daar geen regverdiging is om die lied te sing nie en het beveel dat Malema die regskostes moet betaal,” het meneer Brink verduidelik.
“Die doel van die simposium is om verskeie van die kwelvrae wat ná die uitspraak ontstaan het, kaalvuis te pak en oor die toekoms te gesels, veral in die lig van die appèlsaak wat nou voorlê.”
Die debat sal ná die simposium op Maroela Media se webblad voortgesit word. Dié Groot Debat kan by www.maroelamedia.co.za gevolg word.