Die draagkrag van 'n plaas
Die draagkrag van ‘n plaas
Jannie Steyn se gryse ou vader stuur nog ‘n brief aan sy seun op universiteit. Die broers, GC en SB Hobson, het in 1943 die boek, Aan Jannie, geskryf, maar die waarhede daarin geld vandag nog. Lees elke Saterdag nog ‘n brief aan Jannie in Oppiestoep.
Aan Jannie
Ek is besig om die grond weerskante van die prieel te laat omploeg en gelyksleep. Al sit ek maar in die ou stootkarretjie en aankyk, dis vir my darem ‘n voorreg om weer in die gewoel te wees.
Augus het die blok nou die middag diep gestel en die osse probeer vassteek. As die blok haak, vat die rooispan dat hulle klein word. Maar bly staan, moenie glo nie! Andries waai net ‘n slag met die sweep en dan wip-wip Augus agter aan die blokstert en borrel die kluite oor die bak soos die rooies die snykant deur die grond laat vreet.
Die akkers is al gelyk. Nog net wallesleep en dan waterlei.Ek is van plan om ‘n lap gars te saai en die koeie wat vanjaar in die winter kalwe, elke dag ‘n paar uur met kalwertjies en al op die groenvoer te laat loop.
Jy sê die landbou-vraestel was so reg in jou kraal. Ek is bly. Ek hoop jy kom goed deur. Maar wat is nou eintlik die draagkrag van ‘n plaas? Weet die kêrel wat die vraag gestel het, wat die antwoord is?
Ons land is mos nie orals eners nie; ook nie aljare eners nie. Daar is plase waar ‘n bees in die somer op twee morge vet word en in die winter op twintig morge vrek van die maerte; plase waar dit party jare in die somer reën, party jare in die winter, party jare glad nie.
As dit die jaar in die somer reën, vra die plaas beeste en mielielande, en dan vrek die skape van die wurms. As dit in die winter reën, wil die plaas die beeste nie dra nie. Dan vra die plaas skape, skape en koring; en as dit die jaar glad nie reën nie, wil hoegenaamd niks op die plaas aard nie.
Moet jou tog nie van daardie menere wat nog nooit self geboer het nie, laat vertel dat ‘n boer sy plaas moedswillig oorlaai nie. ‘n Huurplaas miskien, maar nie sy eie plaas nie. Ook nie uit onkunde, soos die bewoording van daar die eerste vraag te kenne wil gee nie. ‘n Boer weet dat as hy te veel vee op sy veld aanhou, hulle eerder minder word as meer.
En al sou daar ook ‘n enkele man wees wat nie weet wat sy veld kan dra nie, die plaas help hom gou reg. Te veel word minder, te min meer. Daarvoor sorg die plaas self.
Hulle sê jakkals prys sy eie stert, maar dis nie ons boere wat sê dat die boer die ruggraat van die land is nie. Dis daardie landboukêrels self as hulle die dag witvoetjie by ‘n vergadering kom soek.
As ons boere van nuuts af kon begin waar ons voorouers begin het, met die veld nog heel soos hulle die plase kom kry het, sou dit ‘n ander saak wees. Maar die plase is reeds kaalgevreet. Die gras is af; die bossies is af. Dis nog net die stoppels wat staan.
Op ‘n stoppelland is daar nog iets vir ‘n dier te maak: grassies op die wenakkers; korreltjies graan wat uitgeslaan het; hier en daar selfs ‘n koringaar. Maar ‘n kaalgevrete plaas is lank nie ‘n stoppelland nie. Op ‘n stoppelplaas staan net onkruid.
Goeie grassoorte en goeie bossiesoorte groei maklik. Hulle is sterk van natuur; word maklik voortgeplant. So het die Heer hulle in sy Alwetendheid gemaak. As ons plaasdiere voor die voet sou vreet, sou die ongewenste gewasse nie teen die gewenstes bestand wees nie.
Maar diere vreet nie voor die voet nie. Hulle soek uit; hulle vreet eers die soetgras, die opslaggies en die gannatjies. As dié op is, dam hulle die vingergras by en byt aan geen minderwaardige gras- of bossiesoort terwyl daar nog ‘n meerderwaardige op die plaas staan nie.
Vingerpol is vir hulle te taai; noors te doringagtig; bome te hoog. Dié is op ‘n manier veilig totdat die droogte kom en die nood die dag druk. Dan sit die boer self hand by die vernielingswerk by, breek die boomtakke af dat sy diere die blare kan bykom; kap vir hulle vingerpol; brand vir hulle noors.
Die onkruid kry kans. Renosterbos neem die Westelike Provinsie in, bitterkaroo die Oostelike; steekgras in Betsjoeanaland, kakiebos in die Vrystaat; oral word die eetbare deur die oneetbare verdring, skape en beeste se kos deur nuttelose goed waar selfs ‘n swerm sprinkane nie op gaan sit nie.
Toe ek laas onder in die Kolonie by neef Stefaans-hulle gaan kuier het, was die bulte die pure kaal kolle en bitterkaroo, met net hier en daar ‘n wildepruim met wortels ontbloot soos die donkies die grond onder die boom weggetrap het. Die hange bokant die dam was wit van die mannetjiesturksvy; die laagtes net slote en wilde twak.
Neef Stefaans het ek nat van die sweet langs ‘n yslike groot mishoop gekry. Hy het ‘n spul masjinerie aangekoop, het hy my vertel, waarmee hy besig is om die mis fyn te maal. Hy laai dit dan Rhodesië toe waar die tabakboere tot drie sjielings die sak betaal.
Ek het aan die troppe, troppe beeste gedink waarmee ons voorouers geboer het totdat die gras totaal op was en Steynsrus die Afrikaners nie meer wou dra nie; aan langstert-Namakwas, die swartkoppies, die mowwe, aan die bokke en die donkies wat op die skape gevolg het toe die plaas die skape ook nie meer wou dra nie.
Ek kon die treurspel so voor my oë sien: die bossies in die grond ingevreet; die plaas blad-getrap en slote-getrap; die vinnig-afloop van die waters; al hoe slegter, totdat ‘n donderbui geen verligting meer bring nie en alleen ‘n landsreën die grond natkry.
As neef Stefaans die na-oes van die plaas, die mishope waar die krale al die jare gestaan het, die dag klaar verkoop het, gooi die plaas hom met gesin en al af. Die vaders het groen druiwe geëet en die tande van die kinders het stomp geword, sê die Grootboek. Dis die waarheid, ja. Maar vir die kinders is dit ‘n kwaai saak.
As ons voorouers hulle plase sommer uit die staanspoor afgekamp het en van die kampe dan al om die ander jaar laat rus het, of as hulle die plase kleingekamp het en, om te verhoed dat die minderwaardige gras- en bossiespoorte ‘n voorsprong op die meerderwaardiges kry, die vee dán eers in ‘n tweede kamp geja het wanneer hulle alles in die eerste kamp, goed en sleg voor die voet, stomp gevreet het… As daardie oumense ‘n honderd jaar gelede die kennis gehad het en toegepas het waar ons maar die laaste tien, twaalf jaar oor beskik en tot vandag toe nie toepas nie; as sake so geloop het, sou die toestand vandag minder sleg gewees het.
Maar die oumense was maar gewone mense. Hulle het destyds nie toegekamp nie; het geen draad gehad nie; kon dit onmoontlik doen.
Daardie landboukêrels, sê jy, vertel van plase waarop al vyfhonderd jaar geboer word en waar die weiveld op die oomblik beter is as toe die eerste boer die eerste ou houtploeg in die grond gesteek het. Maar ploeg vir my bietjie vierduisend morge kliprante om!
En al sou ‘n mens Steynsrus ook met ‘n reusagtige stoomploeg kan losruk, sou die goed wat jy daarop saai tog nie groei nie. Die daartoe nodige reën ontbreek. Die omploeg sal die plaas net laat wegwaai.
Steynsrus, vertel hulle, moet nou eers self rus. Die eetbare gras- en bossiesoorte moet nou eers weer ‘n kans kry. Ek betwis dit nie. As Steynsrus nou tien jaar sou gespaar word en hoegenaamd geen vee daarop toegelaat word nie, sou die veld miskien gedeeltelik herstel, daarby gesê, as neef Stefaans die vierduisend pond aan kontant gehad het om in te steek en die slote te laat opdam…
As hy geld gehad het. As hy ‘n ander plaas gehad het om intussen op te gaan boer. As! As, sê die oumense, as is gebrande hout.
Daar is sommer baie, baie Steynsrusse in ons land, net kleiner en armoediger; die vee te veel vir die plasie, te min vir die boer om van te lewe.
Die ruggraat, spot daardie kêrels wat vertel dat die boer die ruggraat van die land is, die ruggraat, sê hulle, het twee punte. Met die bo-punt dink ‘n mens; op die onderpunt sit jy. Hulle spot fyn.
Maar of ‘n boer vandag op Steynsrus nou net die onderpunt van sy ruggraat gebruik en die boom van sy broek deursit, en of hy die bo-punt gebruik en dink, en soggends opstaan en die hoenders wakker maak, en woel en werskaf en sy hande stukkend werk, op die ou-end palm die bank tog maar die plaas in.
“Aan elkeen wat het, sal gee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.” Ek weet nie of dit die bedoeling van die Grootboek is om die bank vry te spreek nie, maar ek kry vir die baas van ‘n stoppelplasie jammer.