Categories: News, Resource managementPublished On: 18th August 2017

Die belangrikheid van ’n opgedateerde laaste testament

By 3 min read
633 words
Theuns Mans

theuns mans

deur Theuns Mans, CFP®

Die lewe is onvoorspelbaar. ’n Tragedie soos dood of gestremdheid in die familie as gevolg van iets soos ’n motorongeluk kan enige oomblik toeslaan. Behoorlike boedelbeplanning moet al die onvoorspelbare gebeure in ag neem, maar moet steeds buigsaam genoeg wees vir veranderende omstandighede.

In die vorige artikels het ons boedelbeplanningstegnieke bespreek, die waarde van landbougrond en die gebruik van lewensversekering vir die besparing van boedelbelasting. In hierdie artikel word verduidelik waarom ’n opgedateerde, geldige testament so belangrik is vir boedelbeplanning.

Boedelbeplanning gaan oor veel meer as ’n goed uitgedinkte plan om belasting na afsterwe te spaar. Omvattende boedelbeplanning is die versigtige optrek van ’n plan wat sal verseker dat al jou bates en geagte bates na jou dood so doeltreffend as moontlik na jou geliefdes oorgedra word. ’n Omvattende boedelplan sal kwessies soos doodsbelasting, voldoende voorsiening vir geliefdes en die gemaklike oordrag van bates na erfgename hanteer.

’n Testament word omskryf as ’n verklaring deur ’n persoon waarin hy bepaal wat na sy dood met sy bates moet gebeur. Dit gee ’n persoon ook die geleentheid om te bepaal wie toesig moet kry oor minderjarige kinders. As ’n persoon sonder ’n testament tot sterwe kom, tree die Wet op Intestate Erfreg, Wet 81 van 1987 in werking. Die Wet op Intestate Erfreg bepaal dan in watter volgorde jou bates vererf word.

Met ander woorde, jy het geen sê oor die verdeling van jou bates nie. Nie eers jou oorlewende huweliksmaat kan bepaal hoe die bates verdeel moet word nie. Vir ’n finansiële beplanner om die likiditeit van jou boedel te bepaal en, om te bepaal of daar na jou dood voldoende voorsiening vir jou geliefdes gemaak sal wees, is ’n opgedateerde laaste testament nodig. Die nalatings in jou testament sal bepaal watter belastingplig daar teen jou boedel is, soos kapitaalwinsbelasting of boedelbelasting. Dit is waarom so ’n laaste geldige testament so belangrik is.

Wat staan jou te doen wanneer ’n gesinslid sterf?

Dood is deel van die lewe, maar tog is baie mense onvoorbereid op die praktiese reëlings wat getref moet word. Wanneer ’n persoon buite ’n hospitaal aan natuurlike oorsake doodgaan, moet ’n dokter uitgeroep word om ’n doodsertifikaat uit te reik. Indien ’n persoon in ’n voorval van geweld sterf, moet die polisie gekontak word wat die saak verder sal neem. Vir begrafnisreëlings is dit die  beste om deur ’n betroubare begrafnisondernemer te werk. Nadat die begrafnisreëlings getref is, moet die boedel by die Meester van die Hooggeregshof aangemeld word.

Al die nodige dokumente soos ’n ID-boekie, huweliksertifikaat en doodsertifikaat moet ingedien word. Die aangewese eksekuteur moet al die dokumente bymekaarmaak om die boedel aan te meld. Die administrasie van die boedel sal voortgaan sodra die Meester van die Hooggeregshof die eksekuteur goedgekeur het. Dit word aanbeveel dat jou familie ook ’n goeie verhouding met jou finansiële beplanner handhaaf sodat hulle weet wie om te kontak in die geval van dood. Die beste manier om jou familie te help is om te sorg dat al die inligting vir die eksekuteur in ’n bereikbare lêer gehou word, soos jou laaste testament, lewenspolisse en enige ander noodsaaklike dokumente.

Lesers is welkom om ons te kontak vir ’n lys van dokumente wat jou eksekuteur al nodig hê. Onthou dat enigeen wat die beskrywing CFP® gebruik, ’n professionele bevoegdheidseksamen moet aflê. Jy kan die versekering hê dat ’n CFP®-praktisyn ’n doeltreffende boedelplan vir jou unieke omstandighede sal kan saamstel.

In die volgende artikel sal ons beleggings bespreek en spesifiek beleggingstrukture wat jou sal help om jou belastinglas aan die einde van die boekjaar te verlig.

Theuns Mans is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner (CFP®) wat spesialiseer in boedel- en beleggingsbeplanning. Stuur gerus u vrae per e-pos na Theuns Mans, CFP®, by theuns@ffg.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0