Die 40ste Agri NK-kongres is gehou in Kimberley
“Twee jaar gelede was my voorganger as president van die Agri Noord-Kaap, Henk van Wyk, se woorde: ‘My medeboere in die Noord-Kaap kry swaar.’ Die rede vir die swaarkry was die uitmergelende droogte tot ‘n vlak waar 70% van die grootste gedeelte van die Noord-Kaap die ergste droogte in 50 jaar beleef,” sê Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap by die 40ste Agri Noord-Kaap kongres in Kimberley.
Die droogte het steeds nie sy knelgreep laat los nie.
“Die landbou is die grootste verskaffer van werk in die Noord-Kaap en dra die ekonomie van plattelandse dorpe, met 67% van die oppervlaktes wat gebruik word vir diereproduksie. Verder huisves die Noord-Kaap ook 25% van die nasionale skaapkudde, wat tans bedreig word deur die droogte,” voeg Nicol by.
Nicol het ook oor grondonteiening sonder vergoeding uitgebrei en die Eskomkwessie. Albei bly ‘n negatiewe invloed.
Hy sê ook die twee riviere in die Noord-Kaap, die Oranje en Vaal is vir die Noord-Kaap ‘n lewensaar wat ekonomies deeglik benut word. “Die besproeiingbedryf skep waardevolle werksgeleenthede en maak ‘n reuse bydrae tot stabiliteit in die land se graanbedryf.”
Daar is darem ook goeie nuus oor paaie in die provinsie. “Die department het 20 nuwe padskrapers tot die vloot voeg om ou skrapers te vevang wat as bystand ingespan kan word om te sorg dat ons grondpaaie in ‘n beter toestand is,” sê Nicol.
Henk van Wyk, voormalige president van Agri Noord-Kaap wat verlede jaar oorlede is, se vrou en kinders het ‘n spesiale toekenning namens hom ontvang.
Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar 2019
Agri Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar-finaliste was Lisa Hanekom, Hilton Megaw en Philip Botha.
Hilton Megaw is die wenner van die besproeiingsafdeling en Philip Botha die wenner van die vee-afdeling. Die algehele wenner van Jongboer van die Jaar in die Noord-Kaap in samewerking met Toyota is Philip Botha van die plaas Wildebeestkooi. Hy boer tussen Strydenburg en Britstown met merino’s.
Philip is getroud met Zane Botha en boer op 26 duisend hektaar. “Ons is met boerdery tans op ‘n baie uitdagende stadium want ons het nie reserwes op ons veld nie, ons het nie kos nie. Jy voer meeste van die tyd.”
Hy boer sedert the begin van 2011 daar.
Philip het ten volle outomatiese voerkrale en lamhokke en ‘n gerekenariseerde identifiseringstelsel asook sonkrag-aangedrewe voerstelsel in sy voerkrale. “Ek dink die intensiewe gedeelte van voerkrale en lamhokke gaan ons boerdery heeltemal oorheers.”
Philip het ook ‘n skeer-onderneming op die been gebring wat reeds uit vyf skeerspanne bestaan. Die NWKV kom lei sy mense elke jaar vir ‘n week lank op.
Ongediertes bly een van Philip se grootste risikos en uitdagings.“Ek het redelik sukses met elektrisiteit rondom sekere blokke waar ek my lammers insit, maar as ons sien daar is ‘n vangery en dit raak heeltemal buite beheer dat ek die roofdier nie in die hande kry met jagspanne nie, dan kry ek ‘n helikopter in en ons vlieg hom tot ons hom uit kry.”
Daar was verskeie besprekingspunte op die kongres:
Die gronddebat en politieke risiko’s is bespreek, met prof Danie Brand, direkteur: Vrystaat Sentrum van Menseregte, as die inleier. Hy het gefokus op die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet. Hy sê: “Dis onteiening teen nul vergoeding, nie sonder vergoeding nie, nul vergoeding.”
Gassprekers saam met prof Danie was Pierre Vercueil, adjunkpresident van Agri SA, Wiaan van Rensburg, Agri Noord-Kaap landelike ontwikkeling, Yogis Saman, hoof van transformasie by Agriqua Holdings en Stolley Letshabo, opkomende boer.
Die tweede besprekingspunt was die stand van elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika en ekonomiese risiko’s in terme van energiekoste en sekerheid. Die inleier was prof LJ Grobler van die meganiese ingenieurswese-fakulteit by die Noordwes-universiteit. Die paneel was dr Requier Wait; Agri SA se hoof van ekonomie en handel, Chris Schutte; direkteur van Sonfin, Schalk Theron van S&L Boerdery in Prieksa, en Sakkie Leimecke; mede-hoof van energie-finansiering by Nedbank.
Prof LG sê in 2005 het dinge nog redelik aangegaan. “Almal het gesê ons krag sal nooit opraak nie. In 2007/2008 was net een eenheid uit, toe is daar beurtkrag en in 2019 is daar ‘n R20,7-miljard verlies van Eskom. Dis astronomies,” sê hy.
“Die elektrisiteitskostes gaan opgaan en Eskom moet sy bedryfskostes verminder. In Suid-Afrika het ons die voordeel dat die klimaat reg is vir die benutting van sonenergie.”
Landboudal-skool in Jacobsdal se leeringe het ook gepraat oor die stand van die elektrisiteitsvoorsiening tans in Suid-Afrika. Hulle noem dat Suid-Afrika se elektrisiteit voorheen die goedkoopste in die wêreld was.
Die laaste besprekingsessie was klimatologiese risiko’s en rampondersteuning. Die inleier was prof Dewald van Niekerk van rampstudies by die Noordwes-universiteit. Die paneel was: Danie Jacobs; voorsitter omgewingsake en Hannes Gerber; navorsingsbestuurder Noord-Kaap Departement van Landbou.
Prof Dewald noem dat dit die afgelope drie jaar die warmste was op rekord. “Die Noord-Kaap gaan definitief nog droër word en die hoeveelheid reënval jaarliks gaan dieselfde bly.
“Boere moet begroot vir rampverligting en beter organiseer.”
Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sluit die kongres af en sê in Sub-Sahara Afrika is Suid-Afrika die mees voedselsekere land. “Daar is hoop en ons saamstaan.”