Cradock Saad mielieboer van die jaar 2016 – Suidelike streek
Cradock Saad het die 20-tonklub-kompetisie drie jaar gelede begin met ‘n suidelike en ‘n noordelike been. Die rede vir die twee bene is omdat die hitte-eenhede en die klimaat drasties verskil. Die doel is om te kyk wie die hoogste tonnemaat mielies kan verbou.
Die wenner van die suid-streek was André Marais van Roodewal, Cradock, met 20,51 ton per hektaar; en Zirk Scheepers van Wonderkop, Cradock, was die naaswenner met 20,46 ton.
André boer al 42 jaar lank met Dohne Merino’s, Angoras en Bonsmaras. Die hoofboerderyvertakking is egter mielies en lusern onder besproeiing. ‘n Verwerkingsaanleg vir die maak van voerpille is ook op die plaas; tot 15 000 sakke pille word per maand gemaak. Omtrent al die rou materiaal word self geproduseer.
Volgens André was vanjaar ‘n moelike jaar met die droogtetoestand en ongelooflike hitte, tog is dit verbasend watter tonnemaat nog steeds behaal kan word. “‘n Goeie oes het baie genade van Bo nodig, maar daarbenewens moet die boer ook sy volle kant bring.”
Volgens André is die volgende elemente van kardinale belang om ‘n buitengewone oes te lewer:
- Die regte planttyd – 20 Oktober tot 15 November.
- ‘n Goeie planter wat akkuraat kunsmis kan toedien en uitstekende spasiëring het om sodoende die korrekte plantestand te verseker.
- Volmaakte snywurm- en ander plaagbeheer.
- Doeltreffende onkruidbeheer is uiters noodsaaklik. Die meeste oeste
onderpresteer as gevolg van ‘n onkruidprobleem.
- Die waarde van mikro-elemente moet ook nie onderskat word nie.
- Doeltreffende waterbestuur.
Wat bemesting betref werk hy op ‘n Cradock Saad-program, wat gips insluit. Na-oes werk hy van die mieliereste in die grond in om die koolstofgehalte te verbeter.
André gebruik van Cradock Saad se mikro-elemente, wat spesifiek geformuleer is vir die Visriviervallei. André se bemestingprogram behels fosfaat met kalium en swael en mikro-elemente, vir die plantproses. Hy glo die belangrikheid van swael moet nie geïgnoreer word nie .
Die mielievariëteit wat hy gebruik het, was ‘n kortgroei-baster, DKC 62-84 RR, waarmee hy 20,51 ton/ha van die land ge-oes het. Sy totale hektare wat hy geplant het, is 320 hektaar mielies.
Hy skryf sy sukses daaraan toe, dat hy ‘n uitstekende reeks werktuie het om sy plantproses so na as moontlik aan presisieboerdery te kan kry.
Die wenner van die noordelike been, is Erich Cloete. Lees hier meer.