Country-Fair-se-kiepe-weeg-reg
Astral sê sy sê oor pluimveesake |
Die maatskappy, Astral Foods wat hoender onder die handelsnaam, Country Fair, verkoop, se produkte voldoen aan alle vereistes wat deur die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) gestel word. Die NRVS was genoodsaak om beskuldigings dat County Fair se hoender binne die 2 kg-pak minder weeg as wat buite-op staan, terug te trek.
Die beskuldigings is vroeër die maand in ‘n nuusvrystelling gemaak en het ook in die media aandag geniet. Die publiek is aangemoedig om nie Country Fair-hoender te koop nie.
Die NRVS het Astral Foods, om verskoning gevra vir enige ongerief, verleentheid en skade wat dié persverklaring tot gevolg gehad het.
Die reguleerder het County Fair se perseel in Epping in Februarie vanjaar besoek en tydens dié besoek gevind dat die maatskappy se produkte wel aan die voorgeskrewe gewigspesifikasies voldoen. Dit het gevolg op ‘n vroeëre besoek in Desember toe die maatskappy gewaarsku is om sekere produkte te onttrek. Die maatskappy het aan die vereiste voldoen.
Mnr Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods, het die verskoning aanvaar. “Daar is geen rede vir County Fair se verbruikers om bekommerd te wees nie, want ons is nie skuldig bevind aan enige klagte nie."
"Ons wil dit graag stel dat ons produkte van ’n hoogstaande gehalte is en dat ons die beste praktyk, soos neergelê deur Suid-Afrikaanse wetgewing, volg. Tog is dit jammer dat dié ongegronde stellings in die media gemaak is wat die reputasie van County Fair en Astral beskadig het.”