CH Spangenberg Dorperstoet vir selfsorg genetika
Wyse boere kies Dorper, want dis die skaap wat telkens die karkaskompetisies wen, wat vir homself sorg, wat wyd aanpasbaar is en wat werklik funksioneel is met goeie moederseienskappe, goeie melkeienskappe en hoë vrugbaarheid.
En as jy die beste van die bestes wil hê, sorg jy dat jy dorpergenetika van CH Spangenberg Dorperstoet naby Keimoes bekom.
Top telers betaal nie verniet tot R200 000 vir ramme wat deur Hilton Spangenberg geteel is nie. Hulle weet dat dié stoet presies die wengenetika bied wat enige kudde enige plek in die land goed te staan sal kom.
Dit alles is die resultaat van ’n suiwer benadering, ’n verstandige teelbeleid en deeglike bestuur.
Hilton, ’n druiweboer langs die Oranjerivier, het sy liefde vir diere, en veral vir Dorpers, van sy pa, oom Piet Spangenberg, geërf. Dit is ook die bron waar hy die grondslag van sy kundigheid (en sy eerste ram) gekry het.
Al het sy stoetery as ’n stokperdjie begin om ramme aan sy familie te voorsien, het hy van die begin af genetika van etlike voorste Dorpertelers uitgesoek, waaruit hy sy eie lyn voortgeteel het.
Die wending het gekom toe ’n Dorperinspekteur skape op die plaas kom keur het. Sy ingenomenheid met die gehalte het Hilton tot meer erns aangemoedig.
Met die steun van die bekende Dorperkonsulant, Daan Bosman, het Hilton en sy regterhandvrou, Valda, die stoet opgebou tot ’n gesogte bron van genetika.
Al ken Hilton elke skaap wat hy teel met voor- en nageslag, glo hy aan deeglike rekordhouding. Rekords word sedert 2000 op papier bygehou, maar dit word nou alles na die rekenaar oorgedra. Sy stoetery is ook by Dorper 21 ingeskakel.
Hilton probeer sy stoet tot 150 ooie beperk om volkome beheer te verseker. Dit beteken ook dat hy jaarliks topgehalte ooie aan ander telers kan verkoop, waaroor baie mense baie bly is.
Waar hy en Daan Bosman voorheen ramme en semen van buite bekom het, het die stoet nou die stadium bereik waar hy grootliks sy eie ramme gebruik. Ramme word na Ramsem gestuur, hulle saad word getrek, die ramme word verkoop en ooie word deur middel van laparoskopie bevrug.
Hilton besluit self watter ooi met watter ram se saad bevrug moet word en dit is een van die hoekstene van sy stoetery se sukses.
Elke ram moet uit 30 ooie ’n opvolger voortbring wat beter as hy is.
Lammers word op 100 dae gespeen, geweeg, behandel en in die kraal gehou om speenskok te bowe te kom. Reeds in die stadium word alle lammers met foute geprul.
In die kraal kry hulle lamkruipkorrels en soveel lusern as wat hulle wil eet omdat rumateriaal in hulle voer hulle aanpasbaarheid op die veld bevorder.
Daarna gaan hulle veld toe sonder enige byvoeding of oppiepery tot op ’n jaar. Dan haal hy en Daan Bosman die presteerders wat in die veld aangepas het uit en rond hulle af vir veilings, terwyl die res voor die voet geslag word.
Ooilammers moet ook hulleself op die veld bewys en word volgens hulle eie en hulle ma’s se eienskappe gekeur. Streng dissipline is nodig, sê Hilton, want die mense soebat vir ooilammers, maar geen lam wat nie die paal haal spring die slagpale vry nie. Namate die stoet verbeter, raak die prulpersentasie darem al hoe minder.
Hilton behaal ’n 82% vatpersentasie met lapara-
skopie want sy ooie is gesond en nie oorspanne nie. ’n Maand nadat ’n ooi gelam het begin hy haar voorberei vir ’n groeifase tydens paring en sy kry vir 21 dae na paring nog sjokolademielies.
Die stoet het baie tweelinge en ’n lampersentasie van 120 tot 130. Baie min lammers gaan dood.
Die stoet ondervind geen geboorteprobleme nie. Hilton selekteer ooie vir ’n kruis wat effens val om geboorte te vergemaklik, en ramme met groot balsakke wat vrugbare ooilammers verwek wat maklik lam.
Vir meer inligting skakel Hilton by 082-563-4705 of e-pos hspan@vodamail.co.za.
Skakel Francois Theron (082-890-2029) van KLK en Daan Bosman (082-929-8406). Hulle speel ’n belangrike rol in die bemarking van die stoet se ramme.