Bystandskrag is ’n waardevolle belegging
’n Nagmerrie. Dit is wat varsmelkproduksie is as jy met kragonderbrekings moet spook.
Sonder elektrisiteit kan die koeie nie tydig gemelk word nie en kan die melk nie voorverkoel of in die massatenks koud gehou word nie.
Boonop veroorsaak kragonderbrekings ook gehalteverliese wat die melkery se winsgewendheid regstreeks benadeel, sê mnr David Davies, deurwinterde varsmelkprodusent van Nutcombe naby Mooirivier in KwaZulu-Natal.
Mnr Davies kan met gesag oor suiwelboerdery praat. Hy het in 1987 by sy pa se melkery op Nutcombe aangesluit. Sedert 1998 bedryf hy die boerdery alleen.
Sy koeikudde, wat steeds uitgebrei word, tel kort duskant 500 en word twee keer per dag gemelk.
Mnr Davies geniet sy lewe as melkboer, maar as daar een ding is wat hom al moedeloos gemaak het, is dit elektrisiteitstoevoeronderbrekings.
Dit gebeur dikwels dat elektrisiteitstoevoer tydens donderstorms en soms selfs sonder enige verklaarbare rede, onderbreek word. Vir ’n melkboer is so iets beslis slegte nuus.
Deurlopende beskikbaarheid van elektrisiteit is onontbeerlik vir die melkmasjiene in die melkportaal, die voorverkoeling van varsmelk en die koudhou van melk in die grootmaat opgaartenks sodat gehalte behoue bly.
Van die koeie af gaan die melk na ’n plaat-voorverkoeler wat deur ’n ysbank bedien word. Dit verkoel die melk van 37oC tot 20oC. Daarna gaan die melk na twee massatenks wat saam 14 000 liter hou.
Hierdie tenks verkoel die melk so gou as moontlik tot 4oC en hou dit so koud totdat die melkverspreider dit kom haal. Hierdie temperatuur moet gehandhaaf word om die melk se gehalte te behou.
Mnr Davies het voorheen ’n trekkeraangedrewe kragopwekker van 20 KVA gebruik om probleme met elektrisiteitsvoorsiening die hoof te bied. Dit het egter nie genoeg elektrisiteit opgewek nie, sodat net sekere take op ’n slag verrig kon word.
So moes hy byvoorbeeld eers klaar melk voordat hy die verkoelingsapparaat kon aanskakel.
Die 20 KVA-opwekker het wel verligting gedurende noodgevalle gebied, maar was weens sy beperkte vermoë ver van ideaal.
Dit, tesame met beurtkrag, het mnr Davies laat besluit om ’n groter bystandskragopwekker te koop, waarmee alle prosesse soos normaalweg bedien kan word.
As vertrekpunt en om die beste ingeligte besluit te kan neem, het hy Keith Horlock, senior Eskom-adviseur vir energieverbruik in die landbou van Estcourt, genader om raad oor die plaas se totale elektrisiteitsbehoefte.
Julius Zondi, Eskom-adviseur vir energieverbruik van Pietermaritzburg, het eers die elektrisiteitsverbruik op die plaas kom meet. Die maksimum behoefte wat oor ’n meettydperk van twee weke op ’n slag benodig word, was 46 KVA.
As deel van Eskom se diens het mnr Horlock hom ook gehelp met inligting oor waar geskikte toerusting beskikbaar is. Prysberamings is aangevra.
Omdat dit ruim voorsiening maak vir sy behoeftes en ook genoeg elektrisiteit vir toekomstige uitbreiding sal kan lewer, het mnr Davies besluit om ’n 80 KVA-bystandskragopwekker aan te skaf.
Die opwekker word aangedryf deur ’n viersilinder dieselenjin, toegerus met ’n brandstoftenk van 310 liter.
Die kragopwekker skakel outomaties aan binne 30 sekondes nadat die kragtoevoer onderbreek word. Binne een minuut nadat dit in werking kom voorsien dit genoeg elektrisiteit om alle normale werksaamhede op die plaas te laat voortgaan.
Sodra normale elektrisiteitstoevoer hervat, maak die opwekker seker dat die toevoer bestendig is en skakel outomaties af.
Selfs in gevalle van ’n kortstondige verlaging in stroomspanning, skop die bystandsopwekker ook vir een minuut in voordat dit weer outomaties afskakel.
“Die bystandstelsel het reeds bewys dat dit ideaal werk en beslis die geld en moeite werd is,” sê mnr Davies. “Binne twee weke nadat dit geïnstalleer is, het die plaas reeds by twee geleenthede die gerief daarvan ervaar toe beurtkrag toegepas is. By die melkery kon produksie sonder om ’n oog te knip normaalweg voortgaan.
“Hoewel die elektrisiteit wat ek nou kan opwek duur is, is dit moeitevry en steeds bekostigbaar. Dit verleen besondere gemoedsrus en ek beskou dit as ’n versekeringspolis wat dekking teen ongerief bied, maar veral ook my melkproduksie en derhalwe my inkomste beskerm.”
“Eskom ondersteun boere wat hulle eie bystandskragopwekkers wil aanskaf en gee hulle graag kundige raad. Veral plase wat op lang toevoerlyne geleë is, is meer dikwels aan kragonderbrekings blootgestel en hulle put dus groter waarde uit so ’n eenheid,” aldus mnr Horlock.
Navrae: Skakel 08600 ESKOM of 0860037566 (deelkoste-oproep). Webwerf: www.eskom.co.za