Categories: NewsPublished On: 23rd August 2011

By-Embrio-Plus-is-sukses-die-doel

By 4 min read
Embrio-oorplasings is wêreldwyd die vinnigste en goedkoopste metode van genetiese vordering. Dr Mornè de la Rey van Embrio Plus op Brits sê al hoe meer telers gebruik embrio-oorplasings, of wil dit gebruik.
 
Soos semenversameling die vermeerdering van bulgenetika bewerkstellig, is embrio-oorplasings tans die beste ekonomiese manier om koeigenetika in melk- en vleisbeeste te vermeerder en te bewaar, sê hy.
 
Boere moet egter weet wat dit behels, want die fisiese oorplasing van die embrio is net een deel van ’n totale program wat die boer moet bestuur.
 
Hoe werk embrio-oorplasing?
 
Die skenkerkoei word hormone gespuit om meer eierselle te produseer. Die eierselle wat met bulsemen van die boer se keuse bevrug word, ontwikkel tot embrio’s en word sewe dae na bevrugting uit die skenkerkoei gespoel.
 
Elke embrio word dan na ’n ontvanger, wat geneties van laer gehalte is, oorgeplaas. Die ontvanger dien as draer en voorsien die embrio van voedingstowwe om tot ’n kalf te ontwikkel, baar die kalf en maak dit groot.
 
Die skenkerkoei kan herhaaldelik elke 7 tot 8 weke gespoel word of dragtig gemaak word om weer ’n kalf te dra.
 
Waarom behoort ’n boer embriospoeling te oorweeg? 
  • ’n Waardevolle koei se nageslag kanvermeerder word sonder dat sy elke keer deur die kalwingsproses hoef te gaan.
  • Spoeling van ’n koei wat haarself al as ’n goeie teelkoei, soos moeder van skou-kampioene of van ’n KI-bul bewys het, help die boer met voorspelbaarheid.
  • ’n Vers met waardevolle genetika kan gespoel word om die generasie-interval te verkort.
  • Dit stel die boer in staat om spesifieke genetiese lyne te kies en te vermeerder.
  • Meer dragtighede kan met duur of skaars semen verkry word.
  • ’n Ouer koei of ’n beseerde koei wat nie meer self kan kalf of teel nie, se genetika hoef nie verlore te gaan nie.
Keuse van skenkers
 
Embrio Plus staan boere graag by om die regte skenkerkoeie te kies, maar gee die volgende raad:
 
Nie alle koeie is goeie skenkers nie. Daar moet eers gespoel word om te bepaal wat die koei se skenkvermoë is.
 
Mornè sê: “Ons beveel aan om ’n koei drie keer te spoel, aangesien daar baie faktore is wat ’n rol speel by die sukses van die spoeling. Dit stel ons en die boer in staat om probleme uit te stryk en moontlik ’n ander superovulasieprogram te probeer.”
 
Moontlike probleme kan sistemies van aard wees, soos haar baarmoederomstandighede, spanning op die koei, bestuursfoute, omgewingsfaktore soos klimaat en reën, voedingstoestand en semengehalte.
 
Die aantal embrio’s wat ’n skenkerkoei produseer, wissel ook na gelang van ras, ouderdom en laktasiestadium.
 
Hantering van skenkers
 
Skenkerkoeie moet reg hanteer word. Embrio Plus werk saam met die plaaslike veearts aan die roetine-voorbereidingswerk. Die veearts kan byvoorbeeld seker maak dat die koei se baarmoeder na kalwing normale involusie ondergaan het, dat sy skoon en gesond is en dat haar kondisie reg is.
 
’n Paar algemene riglyne wat die boer kan volg is:
  • Die skenkers moet rustig en sonder spanning hanteer word.
  • Geen opgietdipmiddel moet gebruik word vanaf sewe dae voor die begin van die superovulasie tot die dag van spoeling nie.
  • Die skenkerkoei moet vir minstens drie weke voor die begin van die program by die voeding aangepas wees.
  • Maak seker dat die KI-proses suksevol verloop, want dit gaan hier oor bevrugte embrio’s.
  • Volg Embrio Plus se program noukeurig. Moenie dit aan onkundiges oorlaat nie.
 Keuse en hantering van ontvangerkoeie
 
’n Paar van die riglyne wat hier geld is:
  • Gebruik vrugbare diere.
  • Verse is goeie ontvangers mits hulle geslagsryp en groot genoeg is.
  • Die swakste ontvangers is eerstekalfkoeie.
  • Benut die diere wat jy het volgens potensiaal; dis goedkoper en veiliger as om onbekende diere in te koop.
  • Kies ontvangers wat groot genoeg is om die skenkers se kalwers te dra.
  • Kondisie is baie belangrik: ’n Kondisie- telling van 2,5 tot 3 is ideaal.
  • Minstens tagtig dae moet na kalwing verloop voor oorplasing.
  • Moenie ontvangers gebruik wat al twee keer voorheen onsuksesvol gebruik is nie.
  • Voeding, vitamine-aanvulling en die rustige hantering van die ontvanger is belangrik.
Dit is belangrik dat ’n veearts die ontvangers ondersoek voor die begin van die program en dat hulle hittetyd behoorlik gesinkroniseer word.
 
Mornè sê: “Al is dit dikwels ’n probleem om genoeg ontvangers te kry, stel ons voor dat omtrent tien ontvangers vir elke skenkerkoei voorberei word.” Dragtigheidsondersoeke moet op twee maande gedoen word. Die embrio groei stadiger as normaalweg en die fetus is baie meer sensitief. Resorpsie vind makliker plaas.
 
Die belangrikste beginsel rakende die kalwingsproses is: Die kalf is baie meer werd as die ontvanger!
 
Embrio Plus ontwikkel ook embriooorplasingsprogramme binne boere s teelbeleid en breë kuddebeplanning. Soos Mornè sê: “Ons werk saam vir sukses.
 
Kontakbesonderhede: Skakel Embrio Plus 012-250-2359, info@embryoplus.com, www.embryoplus.com

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment