Categories: NuusPublished On: 17th February 2025

Burgerlike organisasies help om 25 miljoen liter water van plaaspaaie te verwyder

By 2 min read
405 words

Een van die paaie wat oorstroom het

AfriForum se Ellisras-tak het vir 13 dae lank gespook om saam met Saai en die plaaslike boeregemeenskap van Lephalale (Ellisras) ongeveer 25 miljoen liter water van paaie af te pomp nadat groot dele van dié gebied oorstroom het. Dit het nagenoeg 650 liter diesel geverg om die water uitgepomp te kry en die koste daaraan verbonde, wat bykans R23 000 beloop het, is deur die gemeenskap ingesamel.

Danksy AfriForum se noodfonds en Saai se betrokkenheid kon ’n verdere bygedra gemaak word om ’n 200 m pyp aan te koop om hierdie water uit te pomp – ’n daadwerklike bewys dat selfstandigheid ’n verskil maak wanneer rampe tref.

Vloedwater het gedurende Januarie paaie in en om Lephalale verspoel wat boere van broodnodige hulpbronne op die dorp afgesny het. Eskom kon boonop nie plase bereik om herstelwerk op kraglyne te doen wat deur die vloedwater beskadig is nie.

“Die onlangse vloede in die gebied het infrastruktuur oornag vernietig en gemeenskappe van noodsaaklike hulpbronne ontneem. Dit is ’n sterk herinnering dat gemeenskapsfederalisme noodsaaklik is én dat gemeenskappe hul eie noodplanne in plek moet hê om doeltreffend op rampe te reageer. Deur selfstandig te wees – hetsy deur waterbronne te beveilig, alternatiewe energiebronne te hê of noodvoorrade op te bou – kan gemeenskappe vinniger van hierdie soort natuurrampe herstel,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

Die meerderheid van munisipaliteite het nie voldoende begroting vir rampbestuur nie, wat beteken dat daar min tot geen voorbereiding gedoen word om die impak van rampe te versag nie. Inwoners ontvang boonop nie genoegsame ondersteuning wanneer rampe ’n gebied tref nie. ’n Eenvoudige manier hoe die Lephalale Plaaslike Munisipaliteit die impak van dié ramp kon versag, was om die stormwaterdreine gereeld skoon te maak.

“Die veerkragtigheid van Suid-Afrika se boeregemeenskappe blyk weereens duidelik in tye van teëspoed. Deur samewerking met AfriForum en ander rolspelers bly Saai daartoe verbind om inisiatiewe te ondersteun wat familieboere en hul lewensbestaan beskerm. Toegang tot water, infrastruktuur en rampverligting is nie vanselfsprekend nie en hierdie pogings bewys wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan en self verantwoordelikheid neem,” sê Iné Bester, operasionele hoof by Saai.

Rampe hou groot uitdagings vir kwesbare gemeenskappe in en elke bydrae kan die verskil tussen oorlewing en ellende beteken. Besoek www.afriforum.co.za en klik op donasies om tot AfriForum se noodfonds by te dra.

Alternatiewelik, maak ’n deposito direk in die noodfonds se rekening. Die bankbesonderhede is as volg:

Bank:                         Eerste Nasionale Bank

Rekeninghouer:        AfriForum MSW

Takkode:                   261550

Rekeningnommer:   623 498 98 398

Verwysing:                Noodfonds

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0