Categories: NewsPublished On: 6th June 2011

BTW-drama: Nie net boere betrokke

By 2 min read
379 words
Dit blyk uit ‘n gesprek tussen Agri SA en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) dat die drama wat in die Vrystaat ontvou het oor sogenaamde vervalsde BTW-eise nie noodwendig landbougerig is, soos in die media gerapporteer nie. Dié gebeure het die skuld gekry vir die agterstand in die uitbetaling van BTW-eise. 
 
Agri SA sê na aanleiding van verskeie lede-navrae aangaande die nie-uitbetaling van BTW-eise, het hulle ‘n gesprek met senior personeel van SARS aangevra. 
 
SARS het aan Agri SA verduidelik dat hulle in proses is om die BTW-stelsel – soos van toepassing op die hele sakegemeenskap, te moderniseer. ‘n Nuwe BTW-eisvorm is vir dié doel ontwikkel. Die stelsel behoort binnekort volledig in werking te wees.
 
Hierbenewens het SARS klaarblyklik sedert Maart 2011 kommerwekkende tendense met BTW-eise opgemerk waarvolgens besluit is om BTW-uitbetalings tydelik te staak en aan ‘n tweede hersieningsproses te onderwerp. Indien nodig geag word risiko-gevalle aan ‘n oudit onderwerp. Hierdie hersienings het druk op SARS geplaas, wat gelei het tot die agterstand in uitbetalings wat hulle van voorneme is om binnekort uit te wis. SARS erken dat hulle, soos wetlik verplig, in gebreke gebly het om eisers in kennis te stel van die proses, maar het wel aangedui dat die fout intussen reggestel is. ‘n Groot getal eise is intussen reeds gefinaliseer en uitbetaal. 
 
Dit het uit die vergadering duidelik geblyk dat die situasie rondom die probleem met BTW-uitbetalings nie landbouspesifiek is, soos wat in verskeie gevalle gerapporteer is, nie.  SARS is wel bewus van die negatiewe impak wat laat uitbetalings op produsente kan hê en het Agri SA verseker dat die agterstand so spoedig moontlik uitgewis sal word. Waar van toepassing sal rente wel verreken word.
 
Daar is ook gesels oor die betrokkenheid van Agri SA by die vergunnings in die BTW-wet wat spesifiek vir landbouprodusente ingestel is. Agri SA is versoek, en het onderneem, om alles in werking te stel om die integriteit van die stelsel te beskerm. 
 
Produsente word egter steeds aangemoedig om probleme eers op plaaslike of provinsiale vlak op te los, maar indien dit blyk nie na behore opgelos kan word nie, kan Agri SA dit op nasionale vlak met SARS opneem. 
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0