Bêre-daai-gevaarlike-wapen
Een van die dae gaan ‘n boer nie meer geken word aan die knipmes in sy sak as die konsepwet op Gevaarlike Wapens deurgevoer word nie. Die voorgestelde wet is in openbare kommentaar as belaglik afgemaak, maar die implikasies is ’n groot bron van kommer vir die landbougemeenskap.
Mnr Chris van Zyl van TLU SA sê dit is veral kommerwekkend dat die wet se definisie vir wapens so wyd is.
“Van ’n stapkierie tot ’n knipmes kan volgens die definisie as ’n wapen gesien word. Ons is bekommerd oor hoogs tegniese wette waar oordeel oor ’n gevaarlike wapen aan beamptes tot op die laagste vlak van implementering oorgelaat word.”
Mnr Van Zyl sê dit is juis wetteloosheid in die land wat daartoe aanleiding gee dat mense hulself wil beskerm en nou word daar ‘n wet gemaak teen selfbeskerming.
Mnr André Botha, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê die staat mis die punt met die konsepwet: “Daar is ’n moraliteitsprobleem in die land waar respek nie meer aan mense se lewe geheg word nie. Die Regering moet ’n bietjie die hand in eie boesem steek en kyk wat kom uit.”
Mnr Botha het ook verskeie vrae oor die behoorlike toepassing van die wet.
“Dit beteken mense wat aan onwettige optogte deelneem se wapens moet ook afgeneem word en hulle moet vervolg word.”
Albei die landbou-organisasies het aangedui dat hulle op die wet kommentaar sal lewer. Kommentaar moet voor 2 Oktober ingedien word.
Die Vryheidsfront Plus het ‘n beroep op die publiek en belangegroepe gedoen om beswaar aan te teken. Mnr Pieter Groenewald sê: “Kieries, knuppels, pepersproei, enigiets wat gebruik kan word om iemand te beseer, word gedefinieer as ’n gevaarlike wapen. Sou ’n vrou laat in die aand met pepersproei in haar handsak loop en die polisie keer haar voor, kan sy nie sê dit is vir selfverdediging nie en kan sy in hegtenis geneem word.”
Hy het die konsepwet as “absurd” beskryf. Tot windbukse en verfbal-gewere word as gevaarlik beskryf. Enigiemand wat ingevolge die wet aangekeer word, kan tot drie jaar tronkstraf opgelê word.
Dr Willie Burger van Kleinfontein se versameling unieke miniatuur knipmessies kan moontlik een van die dae as "gevaarlike wapens" geklassifiseer word.