Brasilianse-hoender-vlieg-die-wêreld-vol
![]() |
Die Brasiliaanse Pluimveevereniging het op ‘n inligtingsgeleentheid vir die media in Suid-Afrika dit benadruk dat hulle die wêreldleier is as dit by hoenderboerdery kom.
Volgens die vereniging beskik Brasilië oor ‘n reuse pluimveebedryf en is toegang tot markte vir hulle uiters belangrik.
In 2010 het hulle 12,3 miljoen ton pluimvee geproduseer waarvan 39% na meer as 150 lande uitgevoer is.
Die pluimveebedryf in Brasilië voorsien op ‘n regstreekse en onregstreekse wyse werk aan vier en ‘n half miljoen mense.
Hulle beweer dat hulle die afgelope dekade ‘n belangrike rol gespeel het om die plaaslike prys “te balanseer”. Klaarblyklik kom 73% van ons ingevoerde hoendervleis van Brasilië af. Ander lande wat hoender invoer is Argentinië, Kanada en Engeland.
Dit is duidelik dat Brasilië se owerhede sy pluimveeboere en die bedryf in geheel goed ondersteun sodat hulle toenemend nuwe markte met ‘n hoë gehalte produk wen.
Die vereniging het gesê dat pluimvee wêreldwyd ‘n al hoe belangriker diereproteïenbron word. ‘n Studie deur die FAO het bevind dat die wêreldwye per capita verbruik van vleis teen 2050 van 41 kg tot 52 kg per jaar gaan toeneem.