Brandstofpryse ry boere bloots
Die drastiese verhoging in brandstofpryse hierdie week bedreig voedselsekerheid, want dit raak onlonend vir veral boere wat met kontantgewasse boer, om hulle produkte by markte af te lewer.
Mnr Ben Marais, TLU SA se president sê die nuwe dieselprys gaan boere finansieel erg knou: “Daar moet kennis geneem word dat veral boere wat met kontantgewasse, soos groente, boer, binnekort nie meer sal kan lewer nie. Aan die een kant maak die dieselprys dit vir boere onlonend om te produseer, veral omdat die boere prysnemers is en moet vat wat hulle aangebied word. Aan die ander kant gaan die buitensporige toltariewe wat veral in Gauteng rondom die markte beoog word, dit vir boere nie die moeite werd maak om enigsins te probeer oeste by markte afgelewer te kry nie.” Mnr Marais sê TLU SA het in die verlede al by herhaling gevra dat die rabat wat boere kry, verhoog moet word.
Die organisasie sê die enorme verhoging op lisensiegeld vir landboumasjinerie, wat feitlik nooit op die paaie ry nie, is nog ‘n faktor wat in berekening gebring moet word.
Volgens mnr Marais het die Staat onlangs daarin geslaag om van die rykste belastingontduikers in die land op te spoor en hulle te dwing om ook hulle deel tot die staatskas by te dra.
Aangesien hierdie ’n meevaller is waarop die Staat nie gereken het nie, is TLU SA van mening dat die regering gerus ’n toegewing kan maak aan die motoris in terme van die vermindering van die brandstofheffings. Die drastiese prysstyging in petrol- en dieselpryse, is grootliks te wyte aan verhoogde heffings wat in die laaste begroting aangekondig is.
“Helaas lyk dit of die regering so behep geword het om die verbruiker uit te mergel met sy heffings, dat hy ongevoelig geword het vir die probleme wat hy daardeur, veral vir landbou en voedselsekerheid, skep,” sê mnr Marais.