Brandmerk of kry dit hotagter
“Dit is nie die moeite werd om kanse te waag met die merk van vee nie,” sê Marinus van Jaarsveld van Van Jaarsveld-afslaers by Nylstroom. “Die enigste mense wat wen as ons nie ons vee merk nie, is die diewe. Verder verloor almal – kopers, verkopers en selfs afslaers.”
’n Paar vee-eienaars het onlangs hulle rieme styfgeloop toe die polisie se veediefstaleenheid op veilingskrale toegeslaan het om seker te maak almal se merke is in orde. Dit is ook nie sommer speletjies nie. ’n Vee-eienaar kan ’n boete van ’n paar honderd rand op die lyf loop vir elke bees wat nie behoorlik gebrandmerk is nie.
Marinus sê daar in sy omgewing werk hulle baie lekker saam met die manne van die veediefstaleenheid.
“Hulle is selfs so gaaf om ons pakke met brandmerkregistrasievorms in Pretoria te gaan aflewer, sodat ons nie self hoef te ry nie!”
Hy sê as almal nie by die reëls hou nie, kan dit groot moles tot gevolg hê en selfs onskuldige mense wat onwetend betrokke geraak het, kan in die spervuur land.
Dit kan gebeur dat gesteelde vee verkoop word en dat ’n koper alles kan verloor – sy geld en die vee wat hy gekoop het.
Tot die afslaer en die bestuurder van die voertuig wat die vee aangery het, kan beboet word. Dit is hoekom dit belangrik is dat almal seker maak die verkoper se papierwerk en brandmerkeis in orde.
Mnr Jaco Maré, voorsitter van die Nasionale Veediefstalforum, sê dat gans te veel hofsake verloor word omdat boere se vee nie behoorlik gemerk is nie. Eienaars moes al verslae staan en toekyk hoe die diewe vry uit die hof stap, omdat hulle nie kon bewys dit is hulle eiendom nie.
Hy het dit ook benadruk dat boere diefstalle moet aanmeld: “Dit help die veediefstalforum om saam met die polisie probleemgebiede te identifiseer waar optrede benodig word.”
Kolonel Osie Oosthuizen, nasionale bevelvoerder van die polisie se veediefstaleenheid, sê meer as 50% van die vee in die land is nie gemerk nie. Die polisie hou baie inligtingsessies om veral opkomende boere of kleinboere tradisionele gebiede in te lig oor die belangrikheid van veemerke.
“Baie keer dink ’n vee-eienaar dit is nie die moeite werd om sy twee bokke en drie beeste te merk nie, totdat ’n bees gesteel word, dan maak dit skielik sin…”
Dit is egter ook groter boere en spekulante wat nie vee merk nie. “Ek weet nie hoekom nie, hulle doen dit net nie,” sê hy.
Met betrekking tot die besoeke aan veilingskrale sê hy dat dit maar roetineoptrede is. Veral in ’n omgewing waar baie diefstalle aangemeld is, gaan kyk die veediefstaleenheid of die gesteelde vee dalk hulle pad deur ’n veiling vind.
Boetes vir ongemerkte vee verskil van distrik tot distrik, aangesien landdroste die boetes bepaal, maar herhaalde oortreders moet hulle maar regmaak vir swaar strawwe.
Kol Oosthuizen sê die merk van vee is nie die aller antwoord op veediefstal nie, maar dit is ’n belangrike wapen in die stryd.